Central SA
Mynwerker se liggaam na byna twee jaar gevind─── 14:28 Fri, 22 Jul 2022
'n Somber atmosfeer het Donderdag namiddag by die Gamsbergmyn naby Aggeneys in die Noord-Kaap geheers.
Dit, nadat die liggaam van 'n mynwerker na byna twee jaar gevind was.
Chris Whitlow van Buffelsrivier het op 17 November 2020 gesterf, nadat rotse en sand op verskeie werkers geval het tydens 'n fratsongeluk.
Een werker van Concordia se liggaam kon na die ramp gevind word, maar nie die van Whitlow nie.
Reddingspanne het onverpoosd na hom gesoek.
Donderdag het die myn en werkers hulde aan Whitlow gebring toe sy oorskot binne die myngebied gebring was.
Intussen het sy familie die mynbestuur, sy kollegas, reddingsspanne en die inwoners van Namakwaland bedank vir hulle gebede, en ondersteuning oor die afgelope byna twee jaar.
Mariana Whitlow het gesê dat hy 'n staatmaker sowel as ‘n sokkerafrigter was.
"Sy laaste boodskap aan sy oudste seun – Cornville - ure voor sy afsterwe, was dat hy hom baie lief het."
Die familie sal begin met begrafnisreëlings, nadat forensiese verslae beskikbaar is, volgens Mariana.
OFM-nuus/Isaac Cloete
