Central SA
Onderwysbeampte borgtog geweier ná beweerde verkragting─── 15:23 Mon, 25 Jul 2022
’n Vyf-en-sestigjarige onderwysbeampte in die Noord-Kaapse Onderwysdepartement, van Concordia in die Namakwastreek, is borgtog in die Springbok-landdroshof geweier. Dít, nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ’n negejarige kind verkrag het.
Die Nasionale Vervolgingsgesag se Mojalefa Senokoatsane sê die saak is deur die kind se ma by die polisie aangemeld.
Volgens Senokoatsane het die voorval na bewering in Mei vanjaar plaasgevind.
Die polisie se ondersoek het daartoe gelei dat die beampte op 11 Mei vanjaar in hegtenis geneem is.
Hy het intussen tydens sy hofverskyning Vrydag sy regsverteenwoordiger afgedank en sal na verwagting binnekort ‘n nuwe prokureur aanstel.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het intussen bevestig dat die verdagte in aanhouding sal bly tot en met sy volgende verskyning.
