Central SA
Nog 'n Noordwes-student se dood ondersoek─── HEIDRÈ MALGAS 11:01 Thu, 28 Jul 2022

Sowat ‘n maand nadat ‘n 23-jarige student dood in sy koshuiskamer aangetref is, is nog ‘n student, Mmathabo Cornelia Sesinyi, 'n 20-jarige student aan die Noordwes-Universiteit in Mahikeng, dood in haar koshuis gevind.
Volgens polisiewoordvoerder, Aafje Botma, is die oorsaak van die student se dood in hierdie stadium nog onbekend.
OFM-nuus het vroeër berig dat ‘n 23-jarige student, Onkgopotse Kgeletsane, in Junie vanjaar dood in sy kamer by die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus aangetref is.
Polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, sê die ondersoek na die dood van Kgeletsane is steeds aan die gang.
LEES OOK: Dood van Noordwes-student raak gemeenskap diep
“Ons bevestig dat die liggaam van die student gevind is en dat 'n geregtelike doodsondersoek gedoen word,” het Botma gesê.
Woordvoerder van die Noordwes-Universiteit, Louis Jacobs, sê die instelling is hartseer oor die afsterwe van die 20-jarige student by die Mahikeng-kampus, wie se liggaam Dinsdag 26 Julie ontdek is.
“Die student se naasbestaandes is ingelig en sommige familielede was reeds op die toneel waar hulle deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vergesel is,” het hy gesê.
Sesinyi was 'n eerstejaar BA Kommunikasie-student en 'n inwoner by die GaTholo-koshuis wat nie op die kampus is nie.