Central SA
Vrystaat verwelkom vyf leeus uit Roemenië─── HEIDRÈ MALGAS 08:53 Thu, 11 Aug 2022

Die dierewelsynsorganisasie, FOUR PAWS, het vyf leeus by die OR Tambo-lughawe verwelkom nadat hulle verlede jaar onder slegte omstandighede van 'n teler in Roemenië gered is.
Volgens Elize Parker, skakelbeampte van FOUR PAWS, is die driejarige leeuwyfies en drie leeumannetjies na hul toevlugsoord in Nederland, Felida Big Cat Sanctuary, geneem om aan te sterk. Daar het hulle gou genoeg onder die sorg van die kurator, Juno van Zon, gedy.
“Die vyf leeus is losgelaat uit die kratte gelaat waarin hulle op 'n nagvlug Dinsdagaand na die lughawe by Bethlehem gereis het,” het Parker gesê.
Sy voeg by dat hulle Donderdag leeu vir leeu gaan vrylaat in 'n kamp so groot soos 'n rugbyveld op FOUR PAWS se toevlugsoord, Lionsrock Big Cat Sanctuary, naby Bethlehem.
“Die leeumannetjies se name is Vincent, Roman, Dolf, en die sussies is Geena en Ellie. Hierdie vyf jong leeus is maar drie jaar oud,” vertel sy verder. Die leeus se vertroue moet ook weer teruggewen word. Hulle moet ook gehelp word om in die kampe aan te pas, en om gewoond te raak aan die Vrystaat se koue.
“Ons is gelukkig om op 1 Oktober 2022 Lionsrock weer ná Covid-19 oop te stel vir mense om die diere te kom besigtig. Almal is baie welkom om ‘n draai by ons te kom maak,” nooi sy.
Sy voeg by dat dit die eerste keer vanjaar is wat hulle leeus by Lionsrock ontvang. Vroeër vanjaar is vier tiere uit 'n treintrok in Argentinië gered en op Lionsrock hervestig. Daar is tans meer as 80 leeus, 23 tiere en 3 luiperds in kampe by Lionsrock.
“Oor die wêreld heen het ons al sedert 2007 tot verlede jaar, 210 groot katte uit tragiese omstandighede soos dieretuine, sirkusse en oorlogsones gered,” sê Parker.