On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

#BethlehemWeek: Nuwe ‘gesinslede’ vind pote

───   HEIDRÈ MALGAS 05:00 Mon, 29 Aug 2022

#BethlehemWeek: Nuwe ‘gesinslede’ vind pote  | News Article

Die vyf Romeense leeus, wat vandeesmaand by die dierewelsynsorganisasie, FOUR PAWS, se toevlugsoord naby Bethlehem aangekom het, is besig om hul voete (pote) te vind, en raak nou tuis in die Afrika-son.

“Die vyf raak nou gewoond aan hul bure in die kampe daarnaas en daar is goeie kommunikasie met ‘n paar stewige brulle wat ver oor die Vrystaatse vlaktes in die Riemland trek vanaf LIONSROCK,” aldus media-verteenwoordiger, Elize Parker.

LEES OOK: Vrystaat verwelkom vyf leeus uit Roemenië 

Sy vertel verder dat die vyf leeus by ‘n private eienaar weggeneem is, saam met twee ander, nadat dit met die speel van musiekvideos aanlyn aan die lig gekom het dat welpies uit sy fasiliteit daarin gebruik is.

Twee van die leeus het by FOUR PAWS se toevlugsoord in Nederland agtergebly.


LIONSROCK sal later vanjaar hul deure weer oopgooi vir besoekers nadat dit vir die Covid-19-beperkings en veranderinge aan die Lodge se geboue gesluit was.

Hierdie toevlugsoord, wat deur die wêreldwye dierewelsynsorganisasie FOUR PAWS bedryf word, en naby Bethlehem in die Vrystaat geleë is, gee spesiale aandag en versorg getraumatiseerde groot katte wat oor die wêreld heen gered is. Meer as 100 groot katte is al gered en hier hervestig.

Parker sê daar word 76 leeus, 23 tiere en 3 luiperds gehuisves wat uit omstandighede gered is soos dieretuine, sirkusse en oorlogsones. Van hierdie diere is al sedert die vestiging van die toevlugsoord in 2007, by LIONSROCK in die groot kampe.

Parker voeg ook by dat die spasie wat nie deur die kampe beslaan word nie, ‘n tuiste is wat deur bokke soos hartbeesbokke en zebra’s benut word.

Dié toevlugsoord, soos wat die geval is by alle ware toevlugsoorde vir groot katte in Suid-Afrika, verbied die jag of verkoop van, of teel met groot katte op hul perseel.

Die 1 250 hektaar plaas waarop die toevlugsoord gevestig is, was oorspronlik ‘n aspersie- en mielieplaas en is in ‘n wildreservaat en lodge omskep.

Die plaas is in 2006 deur die wêreldwye organisasie FOUR PAWS gekoop en infrastruktuur soos groot kampe met hoë en sterk heinings is gevestig voordat die eerste leeus vanaf Oostenryk in 2007 daar gevestig is.

“Die toevlugsoord is vernoem na die opsigtelike rantjie met sy rotsagtige voorkoms wat op die plaas voorkom,” sê Parker.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.