Central SA
#BethlehemWeek: Mark 'n winkelvenster vir entrepreneurs─── ELSABÉ RICHARD 07:41 Mon, 29 Aug 2022
Die Affi-Aarde Familiemark in Bethlehem bied ‘n winkelvenster vir die dorp se entrepreneurs.
Aldus Johan Smith, een van die mark se koördineerders, bied dié mark als van vetplante, kosbederfies, asook handgemaakte produkte.
Die uitstallers verkoop meestal produkte wat hulle self gemaak het.
Affi-Aarde vind op die eerste Saterdag van elke maand plaas en daar word ook van tyd tot tyd ‘n aandmark aangebied.
LEES OOK: #OosVrystaatWeek: Nuwe ‘gesinslede’ vind pote
Die mark, wat in September 2022 sy vyfde bestaansjaar vier, is deur markte soos die Wild Oats-mark op Sedgefield en die Outiniqua-mark in George geïnspireer.
“Ek en my vrou hou altyd vakansie onder in Kleinbrak. Ons het hierdie goed beleef en teruggekom Bethlehem toe. En dan elke jaar sê ons: ‘ons moet só ‘n mark hierso begin’.”
‘n Inwoner van Stellenbosch, met dieselfde passie vir markte, het na Bethlehem verhuis, paaie gekruis met die Smiths en die mark het ontstaan.
Die naam is “Affi-Aarde” en is gewortel in die streek.
“Ons is hier in die Oos-Vrystaat, ons is mense van die platteland en ons het gedink ‘Affi-aarde’ gaan ‘n lekker naam wees vir ons mark,” verduidelik Smith.
Aanvanklik wou die mark ‘n afsetpunt vir vars produkte bied, maar met die ongenaakbare koue Bethlehemse winter, waartydens baie min vars groente byvoorbeeld geproduseer kan word, was dit moeilik. Die klem het toe van ‘n varsproduktemark na ‘n familiemark verskuif.
“Dit het groot verandering gebring. Terwyl die kinders speel, kom sit die ouers onder die lapa en eet ontbyt. Dit word ‘n plek waar die gemeenskap bymekaarkom en hulle kuier lekker saam,” sê Smith.
OFM-nuus se Elsabé Richard-May gesels met Smith oor die mark:



