Central SA
#BethlehemWeek: Bekkige wysneus in tv-program te sien─── HEIDRÈ MALGAS 05:00 Tue, 30 Aug 2022
‘n Graad 1-leerder van Bethlehem, Marshant Bolton, gaan hierdie week as deelnemer op die gewilde Afrikaanse speletjiesprogram “Kyk wie praat” verskyn.
Die program het gesoek na bekkige wysneuse, en Marshant was die perfekte kandidaat, volgens sy ma, Yolanda Bolton.
Marshant gaan binnekort sy klasmaats en die res van Bethlehem met sy siening oor die lewe op televisie vermaak.
Hy is sewe jaar oud en tans in Graad 1 by Laerskool Jordania, voeg sy ma by. “Marshant is al die pad vanaf die Vrystaat deur die regisseurs van die gewilde KykNet program “Kyk Wie Praat” gekies om aan seisoen 2 deel te neem. Die speletjiesprogram is gegrond op die destydse “Small Talk”,” vertel sy ma.
Sy sê dat daar meer as 600 video-inskrywings ingestuur is en Marshant is uit 60 kinders vir oudisies genooi. “Hy is toe uit hierdie 60 gekies vir opnames vir die program,” het sy gesê.
Marshant Bolton se inskrywingsvideo:
Die wysneus is ook betaal vir die dag se opnames en word ook betaal vir die episodes waarin hy verskyn.
Die verfilming van die program, wat deur Homebrew Films vir KykNet kanaal 144 vervaardig word, het in Kaapstad plaasgevind. Met soveel opwinding het Marshant in Mei-maand op 'n groot vliegtuig geklim en vir Oom De Klerk en tannie Ellie in Kaapstad gaan kuier.
Hy gaan deel wees van seisoen 2 wat aangebied word deur De Klerk Oelofse. Marshant verskyn in 3 van die 13 episodes.
“Dit was vir hom ‘n ongelooflike lekker ervaring en iets wat hy vir altyd sal onthou,” het sy gesê.
Kyk episode 6 op 31 Augustus - dit beloof om die lagspiere opnuut te prikkel.

