Central SA
Reeksverkragter kry vier lewenslange vonnisse─── 11:51 Thu, 01 Sep 2022
’n Verkragter (34) in Noordwes het Dinsdag vier lewenslange vonnisse gekry op aanklagte van verkragting, huisbraak, aanranding en diefstal.
Die reeksverkragter, Lebogang Nyoka, het op 30 Augustus 2022 in die Taung-streekhof in Noordwes verskyn.
Volgens die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, Henry Mamothame, is Nyoka tot 'n verdere vyf jaar gevonnis vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, en drie jaar vir diefstal.
Daar word verder berig dat hy op 15 September 2014 by 'n huis ingebreek het, terwyl die 40-jarige slagoffer geslaap het. Hy het die slagoffer aangerand, verkrag en haar televisie gesteel.
In 'n aparte voorval het dieselfde oortreder dieselfde misdaad gepleeg, waar hy 'n 64-jarige vrou en haar 9-jarige kleindogter verkrag het. Hierna het die verdagte 'n skootrekenaar gesteel en van die toneel gevlug. Mamothame voeg verder by dat die 64-jarige intussen gesterf het terwyl die saak in die hof voortgegaan het.
Mamothame het verder aan OFM-nuus gesê Nyoka is later in hegtenis geneem vir 'n onverwante voorval van huisbraak. Nyoka het onskuldig gepleit op dié aanklagte, maar volgens 'n polisieverklaring is hy egter skuldig bevind op die aanklagte van verkragting, huisbraak en diefstalsake en benewens sy vier lewenslange vonnisse, het die hof ook nog 13 jaar tronkstraf bygevoeg, wat samelopend uitgedien sal word.
