On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Dokter lê klag ná ervaring by Binnelandse Sake

───   HEIDRÈ MALGAS 14:03 Fri, 02 Sep 2022

Dokter lê klag ná ervaring by Binnelandse Sake | News Article
FOTO: Verskaf

‘n Bloemfonteinse dokter en sy vroulike kollega het ná ‘n beweerde aanranding by Binnelandse Sake in Bloemfontein 'n klag by die polisie teen dié departement se werknemers gelê.

Hulle is verder van plan om ‘n klag teen die polisie by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) aanhanging te maak.

Die dokter vertel dat hulle ‘n uur vóór die amptelike kantoorure by Binnelandse Sake by die paspoort-afdeling was. Hulle het die tweede en derde plek op die stoele ingeneem. “Die bestuur het uitlokkend daarop aangedring dat ons twee witmense ons sitplekke moet verlaat en heel agter in die tou gaan sit, ek het aangedui dat ek nie verstaan wat aangaan nie,” het hy gesê.

Hy vertel dat die onmiddellike toesighouer hom na haar kantoor toe geroep het omdat sy nie voor getuies wou bespreek hoekom hulle hulle sitplekke moet verlaat nie.

Hy sê hy het die lêer waarin hulle aangeteken het, versoek om te bewys dat hulle voor die mense wat agter hulle gesit het, aangeteken het. Die bladsy waarop hulle aangeteken het, is egter verwyder en die toesighouer het daarop aangedring dat hulle ‘n ander bladsy invul en agter die mense sit wat 9-uur ingekom het.

“Ek het hulle name gevra en hulle het geweier. Ek het toe ‘n foto geneem waarna hulle my as gyselaar in ‘n hoek vasgedruk het en my foon met geweld probeer afneem het terwyl hulle rassistiese opmerkings gemaak het,” beweer die dokter.

“Ek het slim genoeg net my hande in die lig gehou sodat hulle nie 'n aanrandingsaak teen my kon oopmaak nie,” vertel hy.

Hy vertel verder dat hulle Mangaung-polisiestasie toe is om 'n verklaring af te lê, waar beamptes na bewering geweier het om ‘n saak oop te maak of sy verklaring af te neem. Hy beweer dat dinge daar ook hand uitgeruk het nadat amper 15 polisiemanne langdurige en oormatige geweld teen hulle begin gebruik het.

Vrystaatse polisiewoordvoerder, Thabo Covane, het bevestig dat die dokter en die vrou ‘n klag van aanranding by die Mangaung-polisiestasie gelê het teen werknemers van Binnelandse Sake.

Hulle het intussen sy kollega na bewering in die parkeerarea aangerand, rassistiese opmerkings gemaak en haar herhaaldelik gevloek. Ná 'n paar ure is hulle toegelaat om die polisiegebou te verlaat.

“Haar bril is tydens die aanranding van haar kop af geklap. Hulle het haar foon met geweld afgeneem en die opname van die polisiegeweld van haar foon verwyder,” vertel die dokter.

Die ondersoek duur voort.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.