Central SA
Noord-Kaap Gesondheid steek aptekersassistente in die werk─── 07:20 Tue, 13 Sep 2022
Altesame 99 aptekersassistente is deur die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid aangestel nadat hulle ‘n grondslag-kwalifikasie voltooi het.
Die provinsie se LUR vir Gesondheid, Maruping Lekwene, sê hulle is verheug oor die aanstellings omdat dit sal help om ‘n veerkragtige en volhoubare stelsel in gesondheidsorggeriewe op die been te bring sodat dienslewering - insluitend inentings teen Covid-19 - met minimale ontwrigting kan voortgaan.
“Net net verminder dit werkloosheid onder die jeug nie, maar dit verlig ook die werkslas van verpleegpersoneel om beter op pasiëntsorg te fokus.
Die 99 aptekersassistente sal by primêre gesondheidsgeriewe in diens geneem word. Dit is deel van die departement se plan om doelterffende farmaseutiese sorg by alle gesondheidsgeriewe in die provinsie te verskaf en te verseker dat farmaseutiese produkte geredelik beskikbaar is.
Die aptekersassistente het vir die Gesondheid- en Welsynsektor, Onderwys- en Opleidingsowerheid (GWSOO) se Aptekersassistent-leerlingskapprogram ingeskryf en hul kwalifikasie in Julie vanjaar voltooi.
September is Aptekersmaand en die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid vier dit met ‘n reeks veldtogte wat die kollig op die volgende kwessies laat val: reproduktiewe gesondheid en gesinsbeplanning, chroniese siektes, die farmaseutiese bestuur van geestesgesondheid en toetsing vir tuberkulose, MIV/Vigs en seksueel oordraagbare infeksies.
