Central SA
Trane en vreugde vir Mej. Rolstoel SA─── 15:08 Thu, 15 Sep 2022
Suid-Afrika se eerste Mej. Rolstoel SA, die 26-jarige Tamelyn Bock, het Woensdag onverwags duisende rande van 'n bekende sakeman op Springbok ontvang.
Aanvanklik sou Louis Liebenberg R20 000 geskenk het sodat sy aan die Wêreld Mej. Rolstoel-kompetisie in Mexiko kan gaan deelneem. Dié prestige geleentheid vind op 22 Oktober plaas, met deelnemers van 27 lande.
Bock se trane het vryelik gevloei toe Liebenberg aankondig dat hy haar aanvanklike tjek met een van R50 000 gaan vervang.
Tydens die oorhandiging Woensdag het Bock vertel dat sy baie uitdagings moes verduur die afgelope jaar. Dit sluit in 'n eie vervoermiddel, maar veral finansies.
Sy was in November 2021 gekroon as die eerste Mej. Rolstoel SA.
"Ek wil 'n stem wees vir ander persone met gestremdhede. Ek wil die wêreld bewus maak dat ons nie anders is nie, ten spyte van ons gestremdhede."
Sy wil ook die stigma rondom persone met gestremdhede afbreek, sodat hulle meer aanvaarding in gemeenskappe kan geniet.
Woensdag se verrigtinge is bygewoon deur die direkteure van die MAFISA-mynmaatskappy van Liebenberg, asook ander belangrike persone.
Raadslid Amos Polori het Bock beskryf as 'n baie sterk vrou wat die kroon huis toe sal bring. Haar verloofde, Edmund Balie, was baie dankbaar vir die skenking.
Hy sal haar in Mexico ondersteun tydens die kompetisie.
"Toe ek haar ontmoet het, het ek nie die rolstoel gesien nie, maar net haar gesig," sê Balie.
Bock se geliefkoosde slagspreuk is "Start unknown and end unforgettable". Dit blyk asof dit wel die geval gaan wees.
