Central SA
Kinders benodig veiliger kankerbehandeling─── HEIDRÈ MALGAS 15:55 Tue, 27 Sep 2022

September is Internasionale Kinderkanker-bewustheidsmaand en meer doeltreffende en veiliger behandelings vir kinders word dringend benodig.
Prof. Jan du Plessis, hoof van die Pediatriese Onkologie-eenheid aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê nog 'n harde werklikheid is dat sommige van diegene wat wel kanker oorleef, langtermyn-gesondheidsprobleme kan hê as gevolg van hul behandeling.
“Byna alle kankerbehandelings wat vandag by kinders gebruik word, is eintlik vir volwassenes ontwikkel. Die meeste van hierdie behandelings (soos chemoterapie of radioterapie) teiken alle snelgroeiende selle (nie net kankerselle nie), en dit lei tot harde newe-effekte in jong, groeiende liggame,” sê hy.
Du Plessis voeg by dat die rede waarom dit so belangrik is om mense bewus te maak van hierdie siekte - wat niemand graag wil sien by enige van hulle kinders of aan wil dink nie - is juis omdat niemand daaraan wil dink nie en dat mense ook nie die toestand wil raaksien nie.
“Dit is vir almal te verskriklik dat enige kind met so 'n siekte gediagnoseer moet word, maar die rede is dat daar hoop vir hierdie kinders is, en die uitkomste het baie verbeter oor die jare. Natuurlik is ons uitkomste in Suid Afrika nie so goed as wat dit in oorsese lande is nie,” het Du Plessis vertel.
Hy vertel dat dit so maklik is om kanker te mis, veral as 'n mens nie paraat is nie.
Daar word tans tussen 800 en 1 000 Suid-Afrikaanse kinders jaarliks met kanker gediagnoseer. Daar word egter beraam dat die helfte van die kinders met kanker in Suid-Afrika nooit gediagnoseer word nie, volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).
Die algemene soort kinderkankers sluit in leukemie, breinkanker, neuroblastoom en nefroblastoom, sarkoom en limfoom.
Volgens Du Plessis is sy hoop om hierdie kinders vroeg te diagnoseer. Hoe vroeër hulle gediagnoseer word, hoe minder behandeling word hulle aan blootgestel. Dit is ongelooflik om te sien hoe die kankerkinders by hul nuwe normaal en werklikheid aanpas, sê hy.
“Hulle speel sokker in die gang, nie in die park nie. Trouens, 'n mens het in die hospitaal leer loop. Verpleegsters en dokters word hul nuwe gesin. Hulle vreugde, krag en veerkragtigheid is merkwaardig. Hulle lag sal jou hart laat smelt. Jou lewe sal vir altyd verander word wanneer jy sien hoe ’n kind teen kanker veg.”