On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein-penmaats verteenwoordig Suid-Afrika

───   HEIDRÈ MALGAS 11:52 Fri, 30 Sep 2022

Bloemfontein-penmaats verteenwoordig Suid-Afrika | News Article

Die 22ste Karphengel Wêreldkampioenskap het by Lake Deseda-Kaposvár in Hongarye plaasgevind en Suid-Afrika se twee verteenwoordigers was albei van die Rosestad.

Jan Tolmay, een van die verteenwoordigers, sê voor die kompetisie is daar ‘n loting en dan kry hulle ‘n pen, wat gewoonlik ‘n baie groot rol speel. Dan gaan sit hulle op daardie pen vir 72 uur en hengel karp.

André Fourie, wat ook een van die verteenwoordigers is en Tolmay se penmaat is, sê om Protea-kleure te verwerf is ‘n langdurige proses. ‘n Deelnemer het ‘n 3-jaar punt nodig in die Suid-Afrikaanse kampioenskappe om onder die top 5 in die A-afdeling in jou sone te eindig. Dan word jy uitgenooi na nasionale proewe waar jou tegnieke en kennis teen ander hengelaars getoets word.

Tolmay vertel dat hy drie of vier jaar oud was toe hy begin visvang het. Fourie sê hy vang ook al van ‘n jong ouderdom af vis, en as daar ‘n poel water was, het hy altyd gekyk of daar nie iets in is wat hy kan vang nie.

“Hengel was nog altyd deel van my lewe gewees en ek het letterlik al alles probeer vang - van groot haaie af tot forelle in Lesotho,” het Fourie gesê.

“Visvang is vir my baie belangrik, nie net omdat dit deel van my werk is nie, maar dit is ook vir my ontspannend. Daar is bitter min wat so goed voel soos wanneer jy visvang, jou alarm afgaan en jy weet nie wat aan die ander kant van die lyn is nie,” vertel Tolmay.

Fourie vertel hy dink vir enige sportman of -vrou in Suid-Afrika is die hoogste prestasie wat jy kan behaal, jou Protea-kleure. So vir hom is dit ook so. Hy is baie trots daarop en vertel dat dit ‘n groot eer was om die land te verteenwoordig.

Tolmay voeg by sy grootste prestasie in hengel, is dat hy in 2018 en 2019 gekroon is as die Pro Mania-kampioen - 2018 by Bloemhof en 2019 by Aldam. Natuurlik ook om deel te wees van die Protea-span.

Dié penmaats het 12de geëindig uit die 28 lande wat aan die kampioenskap in Hongarye deelgeneem het.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.