Central SA
Gedenkteken in Kimberley weer beskadig─── HEIDRÈ MALGAS 11:59 Mon, 03 Oct 2022
Vandale het weer die waardevolle Diggers Memorial Fountain-gedenkteken in Kimberley beskadig en dit word stuk-stuk weggedra.
VF-Plus raadslid in die Sol Plaatje-munisipaliteit, Johan Smit, vertel dat die monument al vir amper ses dekades deel van Kimberley is. “Toerbusse met oorsese besoekers het in die verlede elke week hier gestop en foto’s geneem van die tuin en die pragtige beelde met die vyf mans, en die fontein in die middel.”
Die beeld, wat van brons gemaak is, beeld vyf lewensgroot mynwerkers uit wat 'n diamantsif omhoog hou.
“Ongelukkig is die prys van brons hoog en die waarde daarvan is deur die vandale raakgesien,” sê Smit.
Hy vertel dat die tuin baie mooi in stand gehou is deur die Sol Plaatje-munisipaliteit, maar dat dit in die 2000s begin agteruit gaan het.
“Dit het verder agteruit gegaan toe die tuin deur werkloses vir slaapplek gebruik is en waterpype deur hulle beskadig is om te kan oorleef,” sê hy.
Hy vertel dat dit toe later ook deur ‘n gedeelte van die gemeenskap as 'n kuierplek geïdentifiseer is. Vrydaemiddae en Saterdagaande is die paaie in die area toe geparkeer en word daar dan gekuier.
“Maandae maak Parke se afdeling weer skoon. Daar is al soveel as 100 swart sakke se vullis op ‘n Maandagoggend opgetel - van drankbottels en rommel - wat daar rondgelê het,” vertel hy.
“Dinsdagnag is een van die 'delwers' bo van die staanplek af verwyder. Skoonmaakspanne het Woensdagoggend die beeld in die tuin sien lê. Ongelukkig is die arms reeds verwyder,” vertel Smit.
Smit sê die park is tans in die proses om oorgedra te word na die Sol Plaatje-universiteit. Dokumente is al ingedien by die Sol Plaatje-munisipaliteit om die oordrag te finaliseer en die proses is reeds baie ver gevorderd.
