Central SA
Rosendal spog met sy eie roos─── 07:41 Tue, 04 Oct 2022
Rosendal spog nou met sy eie roos wat deur die dorp se asemrowende sonsondergange geïnspireer is. ‘n Floribunda, wat amper soos ‘n Iceberg-roos is, met ‘n perske- en koraalagtige kleur, is die een waarop daar vir Rosendal besluit it.
Netwerk24 berig dat Rosendal se onafhanklike dorpsraad voorstelle vir geldinsamelingsprojekte versoek het. Sonja Labuschagné, voormalige sekretaresse van die dorpsraad, het met die idee vorendag gekom om vir Rosendal sy eie roos te laat kweek, wat dan verkoop kon word om die raad se geldkoffer aan te vul.
Sy het Ludwig Taschner, eienaar van Ludwig’s Roses, genader en hy was opgewonde oor die voorstel.
Die raad wou graag die besonderse sonsondergange waarvoor die dorp bekend is, se kleure in die roos laat vasvang. Die roos moes in Rosendal se klimaat kan aard en deurgaans blom.
Die ontwikkeling van só ‘n spesifieke roos sou ‘n hele paar rand kos. Taschner het aangebied dat die dorp een van die rose wat hy jaarliks op eie koste ontwikkel, as Rosendal se roos kan kies.
Die keuse het op ‘n Floribunda-roos, met ‘n perske- en koraalagtige kleur, as die Rosendalroos geval.
Dit is ‘n geharde roos wat perfek in die klimaatstoestande van Rosendal sal aanpas.
“Ons wou spesifiek ‘n roos hê wat mens in ’n pot kan plant, asook een waarvan die blare nie vinnig afval nie,” sê Labuschagné.
Die Rosendalroos word op sosiale media bemark en is in Rosendal by die plaaslike mark te koop. Die dorpsraad hoop om kort voor lank die hele dorp vol te plant.
Taschner beskryf die Rosendalroos op Facebook as ‘n “uitbundige struikroos wat tot meer as 2m hoog en wyd kan groei.”
