On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Vyf leeus uit Roemenië sterk goed aan

───   HEIDRÈ MALGAS 10:06 Sat, 08 Oct 2022

Vyf leeus uit Roemenië sterk goed aan | News Article
FOTO: Verskaf.

Die vyf Roemeense leeus by Four Paws Lionsrock Big Cat Sanctuary pas goed aan in hul nuwe tuiste nadat hulle uit Suid-Roemenië gered is.

Volgens Elize Parker, skakelbeampte van Four Paws, is die leeus wat die 11de Augustus by Lionsrock aangekom het, aanvanklik in 'n kleiner kamp geplaas om seker te maak dat hulle gemonitor kan word terwyl hulle aanpas.

OFM-nuus het vroeër berig dat die dierewelsynsorganisasie vyf leeus by die OR Tambo-lughawe verwelkom het nadat hulle verlede jaar onder slegte omstandighede van 'n teler in Roemenië gered is.

LEES OOK: Vrystaat verwelkom vyf leeus uit Roemenië

"Hulle het nou hul ewige tuiste gevind in die nuwe omheining wat mikro-habitatte insluit soos 'n klein dam, 'n skaduryke woud, rotsagtige uitlopers, golwende rante en die majestieuse agtergrond van die Lionsrock-heuwel waarna die heiligdom vernoem is," het Parker gesê.

Hildegard Pirker, bestuurder by Lionsrock, sê met die vrylating in die groter kamp, was dit tyd om vir hulle hul uitgebreide ewige tuiste te wys en hulle tyd te gee om elke dag vir 'n paar uur te verken.

Dit is ook gedoen sodat die vyf jong leeus hul bure aan die anderkant van die heining kon ontmoet en gewoond kon raak om deel te wees van die meer as 70 leeus in verskeie kampe by Lionsrock.

OFM-nuus het ook berig dat die leeumannetjies se name Vincent, Roman, en Dolf is, en die wyfies se name Geena en Ellie is. Hierdie vyf jong leeus is maar drie jaar oud. Die leeus se vertroue moet ook weer teruggewen word, en moet gehelp word om in die kampe aan te pas, en om gewoond te raak aan die Vrystaat se koue.

“Dolf, wat die sensitiefste van die broers en susters is en senuweeagtig is om mense, het intensiewe aandag van ons gedragskonsultant nodig gehad voordat hy gereed was om uit te gaan na die drie hektaar-kamp. Sy nie-so-skaam broers en susters moes wag sodat ons hom kon gewoond maak aan sy nuwe Afrikaanse huis, maar hulle het ons ook besig gehou,” het Pirker vertel.

Pirker sê die span diere oppassers is steeds besig om ’n vertrouensverhouding met Dolf op te bou. Dit sal hom baie help om 'n gelukkige lewe sonder stres te hê.

Hoof van Wild Animal Rescue and Advocacy by Four Paws, Barbara van Genne, sê nadat sy die hele reis van die vyf broers en susters aanskou het, is sy dankbaar en bly dat Four Paws hulle nou die beste moontlike lewe kan gee.

“Dit is ongelooflik hoe vinnig die leeus by Lionsrock gevestig het, en ek sien uit daarna om hulle nog baie jare lank hul beste lewe te sien leef. Die meeste van ons reddings van wilde diere is ingewikkeld en tydrowend, maar hierdie missie het dit 'n stap verder geneem,” het Van Genne gesê.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.