Central SA
Man kry 20 jaar tronkstraf vir moord op swanger meisie─── 07:09 Thu, 13 Oct 2022
Aldean Wilkinson is Dinsdag 11 Oktober 2022 ’n vonnis van 20 jaar in die Hooggeregshof in Kimberley opgelê vir die moord op sy swanger meisie, ook die ma van sy twee kinders, in Mei vanjaar.
Wilkinson (30) en sy meisie, Danielle van der Linde (29), was op 15 Mei 2022 in 'n rusie betrokke, waartydens hy haar twee keer in die nek gesteek het.
Die voorval het by haar suster se huis in Florianville in Kimberley plaasgevind. Hy het van die toneel gevlug, maar hom die volgende dag aan die polisie oorgegee.
Die polisie het borgtog teengestaan en die beskuldigde het in aanhouding gebly tot en met sy vonnisoplegging. Hy het skuld beken en 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan, waarna hy ‘n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf ontvang het.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se stasiebevelvoerder in Kimberley, brigadier Nicky Mtongana, het die ondersoekbeampte, speurkonstabel Jon-Ross Webb van die Kimberley-eenheid vir ernstige en gewelddadige misdade, geloof vir sy noukeurige ondersoek.
Mtongana het herhaal dat geslagsgebaseerde geweld en moord op vroue 'n prioriteit vir die SAPD bly en het 'n beroep op gemeenskappe gedoen om hulle teen hierdie kriminele dade uit te spreek.
