Central SA
Beskerm jou diere gedurende die reënseisoen─── HEIDRÈ MALGAS 15:34 Mon, 24 Oct 2022
Die reënseisoen kom vinnig nader en die meeste troeteldiere is bang vir swaar weer, weerlig en die haelstorms wat hierdie seisoen meebring.
Hoof-inspekteur van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein, Reinette Meyer, sê dat dit altyd beter is om te probeer om by die huis te wees as 'n mens weet daar gaan ‘n donderstorm of ‘n haelstorm wees want die diere is maar altyd bang. As 'n mens wel nie daardie tyd by die huis kan wees nie, is ‘n ‘doggy door’ altyd ‘n goeie idee.
" ’n Ander baie goeie idee is, dat wanneer daar ‘n donderstorm op pad is en ons word vooraf gewaarsku daaroor, om ‘n middel by ‘n veearts te kry om hulle te kalmeer. Dit help om so ‘n uur voor die tyd vir hulle ‘n kalmeerpilletjie in te gee net om hulle kalm te maak,” vertel sy.
Sy vertel dat musiek ook goed is om hulle aandag af te ly van die donderstorms, hulle gunstelling happie werk ook altyd, en as die donderweer op pad is, is dit wys om met jou diere te speel om hulle besig te hou.
“Ons kry baie gevalle waar die diere bang is wanneer die donderweer opsteek en oor hul 'devil's fork' wil spring om uit die erf te kom. Dit is 'n groot probleem want soms hang hulle aan die ‘devil’s fork’ en beseer hulself, so kyk na jou omheining en maak voorsorg dat daar nie skerp punte is wat die diere kan seer maak nie,” sê Meyer.
Sy vertel verder dat dit baie belangrik is om jou katte in die huis te hou tydens donderstorms want katte raak baie vining bang en kan vinnig aan skok ly.
Sy vertel dat hulle hierdie naweek alleen sowat 20 diere ingekry het ná die storms, wat honde en katte insluit, en dat die DBV alle troeteldiereienaars wie se diere verlore geraak het, vra om die DBV te besoek. Een van hulle voorwaardes is dat voordat die diere uitgaan, hulle ‘n identifikasie plaatjie of ‘n ‘microchip/mikroskyfie’ aanbring.
Soos wat die feesseisoen nader kom, beveel die DBV aan dat mense eerder diere moet aanneem in plaas van koop, en wanneer jy ‘n dier aanneem by die DBV, word ‘n huis-inspeksie gedoen om seker te maak die dier gaan in goeie omstandighede woon. Voordat die dier uitgaan, word hulle ontwurm, ingeënt, gesteriliseer en word 'n identifikasie plaatjie of ‘n mikroskyfie aangebring.
