Central SA
Wat ouers kan doen om matrikulante te ondersteun─── HEIDRÈ MALGAS 05:00 Wed, 26 Oct 2022

Die matriek-eindeksamen is die uiteindelike toets van uithouvermoë en veerkragtigheid vir graad 12-leerders. Dit is ook 'n moeilike tyd vir ouers wat doen wat ook al hulle kan om te help, maar dikwels nie weet hoe nie.
Die hoofbestuurder by The Independent Institute of Education, Peter Kriel, sê die matriek-eindeksamen is moeilik vir leerders maar dis ook moeilik vir hulle ouers wat weet daar is ook net soveel wat hulle kan doen om hulle amper volwasse kinders te ondersteun.
Hy vertel dat hoewel ouers nie dikwels weet hoe om hulle kinders in hierdie tyd te ondersteun nie, is daar ‘n paar dinge wat hulle kan doen en ook nie moet doen nie om dinge makliker te maak.
Hy sê nommer een is om ‘n ogie oor jou kind te hou, een van die belangrikste maniere vir ‘n ouer om ‘n kind te ondersteun sonder om in hulle spasie te wees is om hulle fyn dop te hou.
“Los hulle om aan te gaan met hulle studies, maar kyk uit vir gedrag wat ‘n rede tot kommer kan wees, soos byvoorbeeld hulle studieskedule. As uitstel handuit ruk, stel subtiel voor dat julle weer saam na die skedule kyk en weer op dreef kom,” sê Kriel.
Hy vertel dat slaap- en eetgewoontes net so belangrik is. Hy sê ook 'n mens moet tydelike hulp kry wanneers ouers vermoed dat hulle kinders emosioneel sukkel om die verhoogde druk en stres te hanteer. Soek dan leiding van ‘n geestesgesondheidswerker of berader by die skool of elders.
Verder sê Kriel terwyl matriekeksamenuitslae ongetwyfeld baie belangrik is, is dit net so belangrik om 'n sin vir perspektief te behou, wat soms moeilik word om te doen vir studente wat oorweldig is. Dit kan rampspoedig wees wat betref die uitslae en hul toekoms.
Matriekeksamen is net een deel van ’n mens se lewe – wat binnekort sal verbygaan – en daar sal altyd opsies beskikbaar wees, al volg daardie opsies ’n ander pad as die aanvanklike visie.
LUR vir onderwys in die Vrystaat, Tate Makgoe, sê dat matrikulante na die departement se aanbieding op verskeie gemeenskapsradiostasies moet luister, waar hulle ’n program oor studiewenke oor elke vak uitgerol het.
“Daar sal elke dag iets uitgesaai word, so ons wil regtig al ons leerders vra om na die gemeenskapsradiostasies te luister, maar ons wil vir julle ook sê om gereed en voorbereid te wees vir die eksamen, en die belangrikste is om nooit bang te wees vir eksamens nie. Wees voorbereid, druk deur en as jy iets vergeet, moenie bekommerd wees nie, want dit is normaal,” het Makgoe bygevoeg.
Verder het Kriel bygevoeg dat sodra eksamens verby is, laat studente toe om tyd te neem om net hulself te geniet en stoom af te blaas. Moet egter nie wag vir matriekuitslae voordat jy oor verdere studie besluit nie – dan sal dit waarskynlik te laat wees om toegang te verkry tot jou keuse van instelling en kwalifikasie.
“Om 'n Plan A sowel as 'n Plan B in plek te hê, selfs voor die uitslae, beteken dat ongeag wat gebeur, studente en ouers sal weet dat hulle 'n duidelike pad vorentoe het - ongeag van hul prestasie of in die geval dat hulle beter presteer as verwag - en dat hulle nie skielik gekonfronteer sal word met 'n vermorste jaar wat voorlê nie,” het Kriel gesê.