Central SA
Hoe om veilig te bly tydens ‘silly season’─── HEIDRÈ MALGAS 15:20 Tue, 01 Nov 2022
'Silly season', ook beskryf as die lawwe Kersseisoen, is op ons. Ongelukkig neem kriminele nie verlof van misdaad nie en slaan hulle juis toe wanneer almal begin ontspan. Dit laat die vraag ontstaan - "hoe bly 'n mens veilig?"
Operasionele Reaksiebestuurder vir Senforce-sekuriteit in Bloemfontein, Vicus Geel, sê gedurende die jare wat hy in die sekuriteitsbedryf werksaam is, het hy opgemerk dat een van die mees algemene kriminele aktiwiteite in hierdie tyd huisbrake is, en dit vind gewoonlik plaas wanneer inwoners uitstedig met vakansie is.
“Indien jy beplan om weg te gaan tydens die feesseisoen, maak seker dat jou huis goed [opgepas word] terwyl jy weg is en moet nooit jou deure en vensters ooplos wanneer jy jou huis verlaat nie. Dit is van belang om klem daarop te lê dat inwoners altyd moet seker maak dat hul huis gesluit is,” sê Geel.
Hy sê ook dat inwoners nie waardevolle items naby oop vensters moet los, of waar dit van buite af gesien kan word nie. Hy sê kriminele hou graag van gesteelde goedere op hul wenslys vir die feestyd en dit is ook belangrik om te weet dat wanneer jy terugkeer huis toe van vakansie af, dat jy bedag moet wees op enigiets ongewoon.
“As jy vermoed dat daar ‘n misdaad gepleeg is of dat daar ingebreek is, moenie die huis binnegaan nie omdat die misdadiger steeds in die huis kan wees. Bel dadelik jou sekuriteitsverskaffer of die polisie,” sê hy.
“Ons sien baie diefstal van hekmotors in stil woongebiede. Dit is ‘n misdaad wat onder die donker kombers van die nag gebeur of die vroeë oggendure, wanneer meeste mense rustig slaap,” sê hy.
Hy vertel dat wanneer dit by karre in parkeerareas kom, is dit baie belangrik om seker te maak dat jou kar se alarm werk en dat dit gediens is, want ‘n kar se alarm is darem die eerste afskrikmiddel wanneer misdadigers jou kar, perseel of besigheidsperseel wil betree.
Verder sê hy dat wanneer jy winkel toe gaan, jy bedag moet wees, moet rondkyk en waarneem wat om jou aangaan. Kyk uit vir enige verdagte omstandighede want kriminele is deesdae altyd ‘n stappie voor.
“Wees altyd versigtig wanneer jy bestuur en wanneer jy stilgehou het. Hou die deure van jou motor ten alle tyd gesluit en plaas alle waardevolle items of enigiets wat kansvatters kan lok in die kattebak van jou motor,” sê Geel.
Verder vertel hy dat as jy vermoed jy word agtervolg, of dat jy geteiken word, moet jy na jou naaste polisiestasie, vulstasie of ‘n besige area gaan en hulp soek. Moet ook nooit op jou selfoon praat of speel wanneer jy by ‘n kruising stilhou nie, dit is nie net ‘n afleiding nie, maar dit maak jou ook kwesbaar en dus ‘n teiken vir die misdadiger.
