Central SA
Boere, hommeltuig help polisie om rowers aan te keer─── 08:39 Wed, 02 Nov 2022
Die provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, lt.genl. Koliswa Otola, het die polisie en die gemeenskap van Onseepkans lof toegeswaai vir hul bystand om ses vermeende gewapende rowers vas te trek.
Sy sê in 'n mediaverklaring dat sogenaamde “vennootskapspolisiëring” die sleutel tot sukses is.
Die inhegtenisname spruit uit ‘n voorval vroeër vandeesweek toe ’n gewapende man ’n winkel in Augrabies met ’n vuurwapen binnegegaan en die kassier van ’n onbekende bedrag kontant en sigarette beroof het.
Polisielede wat die gebied met ’n polisievoertuig patrolleer het, het die rower opgemerk toe hy saam met vyf ander manlike insittendes in ’n Toyota-sportnutsvoertuig gespring en weggejaag het.
Die polisie het hulle agternagesit en die rowers het op die polisievoertuig begin skiet. Die verdagtes het met hul voertuig stilgehou en te voet die veld naby die N14-hoofweg in die rigting van Pofadder gevlug.
Lede van verskeie polisie-eenhede, van die hoofwegpatrollie, die honde-eenhede van Springbok en Upington asook plaaslike eenhede het bystand verleen.
Plaaslike boere het die polisie met ’n hommeltuig en ’n ligte vliegtuig in hul soektog na die rowers bygestaan.
Die ses verdagtes is op verskillende plekke in die gebied in hegtenis geneem. Beslag is gelê op drie vuurwapens en ammunisie, asook hul wegkommotor.
Geen beserings is aangemeld nie.
Die ses mans tussen die ouderdomme van 22 en 30 sal eersdaags in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord, sakeroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.
Vier van die verdagtes is buitelandse burgers terwyl die ander twee Suid-Afrikaners is.
Otola het misdadigers gewaarsku dat daar “stewels op die grond sal wees” om polisiesigbaarheid tydens die komende feestydperk en daarna te verbeter.
