On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

NWU-professor deur sy kleinkind onthou

───   HEIDRÈ MALGAS 15:18 Wed, 09 Nov 2022

NWU-professor deur sy kleinkind onthou | News Article
FOTO: Verskaf

'n Voormalige NWU-professor is voorgehou as 'n uitstekende voorbeeld van 'n Potchefstromer wat internasionale erkenning vir homself en sy departement verwerf het. Hy is in die ouderdom van 96 in Potchefstroom oorlede, waar hy gebore en getoë is.

Prof. Pieter Stoker se kleindogter, Louisa Stoker, vertel alhoewel Potchefstroom sy tuiste was, het hy die hele wêreld gesien en wanneer hy vir lang tye oorsee moes gaan vir werk, het hy altyd sy vrou en sy vyf kinders saamgevat.

“Een van my oupa se bekende sêgoed was, ‘verandering van werk is ‘n vakansie’, en dit is presies hoe hy tot die rype ouderdom van 96 jaar geleef het,” vertel sy.

Sy vertel dat haar oupa altyd vir hulle gesê het dat 'n mens gewoontlik van bo na onder oud word - jy begin vergeet, ensovoorts. Maar dit was nie die geval met hom nie, hy was andersom. Sy sê sy kop het nog perfek gewerk maar sy bene wou nie altyd so goed saamwerk nie. Hy het twee weke terug nog met haar pa gesels oor ‘n artikel wat hulle besig was om saam te skryf.

“Behalwe vir sy werk, het hy die laaste dae baie op familie gefokus. Dit was altyd vir hom heerlik wanneer iemand kom kuier het - van die oudste tot die jongste. Hy het die oulikste speletjies met die heel kleintjies gespeel en het dit baie geniet om by my oom-hulle te bly,” vertel Stoker.

Volgens die Noordwes-Universiteit was Prof. Stoker 36 jaar lank hoof van die Fisikadepartement en het hy twee termyne as Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe gedien. Onder sy bestuur het daar 'n nuwe fakulteit uit Natuurwetenskappe ontstaan, naamlik Ingenieurswese.

Hy het ook 'n leidende rol gespeel in die totstandbrenging van die voormalige Skool vir Natuurwetenskap-, Wiskunde- en Tegnologie-onderrig. Hy het geglo dat die opleiding van onderwysers vir die sekondêre fase (tans VOO) nie net aan opvoedkundiges oorgelaat moet word nie, en seker gemaak dat spesialiste beskikbaar was om die inhoud aan te bied.

Prof. Stoker se voortgesette bydrae en invloed blyk duidelik uit die feit dat hy sedert sy formele aftrede in 1990 34 artikels in internasionale vaktydskrifte gepubliseer het.

Sy vertel dat alhoewel hy al hierdie goed bereik het, het mense hom altyd beskryf as ’n baie nederige mens en almal wat hom ken kan getuig dat hy nooit te besig was vir sy geliefdes nie, of om iemand te help nie.

Sy voeg by dat daar so baie mense is wat hom gaan mis en wat hom reeds mis. Hy was geseënd met 5 kinders, 5 skoonkinders, 23 kleinkinders, waarvan die meeste ook al getroud is. Sy 42ste agterkleinkind is ‘n maand gelede gebore, en daar is nog drie op pad waarvan hy alreeds geweet het.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.