On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Bekende uit Noord-Kaap neem waar as hoof van Bybelgenootskap

───   HEIDRÈ MALGAS 11:32 Fri, 18 Nov 2022

Bekende uit Noord-Kaap neem waar as hoof van Bybelgenootskap | News Article
FOTO: https://kerkbode.christians.co.za/

Dominee Rodney van Wyk, gebore en getoë in die Noord-Kaap, is aangewys as die nuwe tussentydse hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA).

Van Wyk het in die Kalahari, op die klein dorpie Rietfontein, noord van Upington, grootgeword en bedien tans die Gereformeerde Kerk Grassy Park/Mitchell’s Plain waar hy die afgelope 38 jaar in die bediening is.

Hy vertel dat die Bybelgenootskap se werk drieledig is — hulle vertaal, publiseer en versprei die Bybel. “Om die Bybel so bekostigbaar as moontlik te hou, maak die Bybelgenootskap staat op die getroue ondersteuning van donateurs wat ’n omvattende netwerk van kerke van verskillende denominasies insluit.”

“Toe ek in 1984 die beroep by die gemeente aanvaar het, was ek diep onder die indruk dat die Here my vir ’n spesiale taak op die Kaapse Vlakte geroep het,” vertel Van Wyk.

Hy vertel dat die Woord van God, wat as Verlosser na die wêreld gekom het, die enigste ware oplossing is vir die probleme waarmee mense daagliks op die Kaapse Vlakte mee worstel.

“Ek is sedert die begin van my bediening in die Kaap as predikant, die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika se verteenwoordiger by die Kaapstad-streek van die Bybelgenootskap,” sê Van Wyk.

Hy voeg by dat hy in 2008 tot voorsitter van die Kaapstad-streek verkies is en hy het op die Bybelgenootskap se Raad van Direkteure gedien. “In 2012 is ek tot die Nasionale Voorsitter verkies en is ek ook as Voorsitter van die Bybelgenootskap se direksie ingestem.”

“Die aanstelling van ’n uitvoerende hoof van ’n organisasie soos die Bybelgenootskap is ’n baie intensiewe proses met die uiteindelike aanstelling wat tydens ’n algemene jaarvergadering goedgekeur word. Tydens ’n Spesiale Jaarvergadering in 2022, is ek weer tot die direksie verkies en deur die direksie as die Tussentydse Uitvoerende Hoof aangestel totdat die nuwe Uitvoerende Hoof aangestel word. Die aanstelling word vir Mei 2023 beplan,” vertel Van Wyk.

Hy sê ook hy het gewoond daaraan begin raak om die eerste een te wees wat grense oorsteek. Die eerste dominee van die Kaapse Vlakte wat as Voorsitter van die Bybelgenootskap se Raad kon dien; en nou mag waarneem as die uitvoerende hoof.

“Ek hoop hierdie aanstelling kan as ’n getuienis dien vir my gemeenskap, wat daagliks met struikelblokke gekonfronteer word, sodat hulle sal sien en besef dat - met die krag van die Here - alles moontlik is. Ons moet net gehoorsaam bly aan ons roeping,” sê Van Wyk.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.