Central SA
Neem 'n bejaarde vir die feesseisoen aan─── HEIDRÈ MALGAS 13:47 Fri, 09 Dec 2022
'n Bloemfonteinse nie-winsgewende organisasie, Guardian and Angel, het met hul jaarlikse ‘Adopt a Grandparent’-veldtog begin en moedig mense aan om ’n grootouer aan te eem en iets spesiaals vir hulle oor die feestyd doen.
Die stigter van Guardian and Angel NPC/NPO, Hester Bekker, sê hulle het agt jaar gelede met hul Grootouer-veldtog begin.
"Daar is so baie gesinne wat minder bevoorreg is en wat nie het wat ander het nie, veral oor die feestyd.
“Enige persoon kan ons help met hierdie projek. Ons samel kospakkies in, asook geskenkies vir bejaardes maar ook vir kinders,” sê Bekker.
Sy vertel dat hulle jaarlik bejaardes kies om hulle oor te ontferm. "Meeste van hulle is mense wat baie eensaam en alleen is, wie se kinders hulle nie oor die Kerstyd besoek nie of glad nie eens deur die jaar nie.
“Ons is maar hulle kinders en hulle is ons ouers.
“Dit is nie net vir die ouer mense wat ons jaarliks hierdie projek van stapel stuur nie, dit is vir oud en jonk, maar die bejaardes is die persone wat ons baie na aan die hart lê omdat hulle so eensaam is,” vertel sy.
Sy sê die bejaardes kom van in en om Bloemfontein en hierdie is bejaardes wat werklikwaar bitterlik swaarkry en net hul Sassa-toelae het om te oorleef.
Enigiemand wat ‘n skenking aan 'n bejaardes wil maak, kan Hester op 072-423-6277 kontak.
