On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Literêre grote gegroet

───   08:47 Thu, 05 Jan 2023

Literêre grote gegroet | News Article
Sy seun Evert en wyle Dolf van Niekerk FOTO: Facebook

’n Groot boom het in die Afrikaanse bos geval. Die nederige Suid-Afrikaanse skrywer, digter, dramaturg, radioman en professor, dr. Dolf van Niekerk, is in die ouderdom van 93 oorlede.

Dié boorling van Edenburg in die Suid-Vrystaat is op 31 Desember 2022 in Pretoria oorlede. Van Niekerk se troosdiens sonder huldeblyke — soos vooraf deur hom versoek — sal na verwagting op Vrydag 13 Januarie 2023 gehou word. 

“Die Woord het hom geskep, hy het met die woord gedans, en die Woord het hom kom haal,” het sy seun Evert van Niekerk op Facebook geskryf.

Nadat hy in 1946 aan die Hoërskool Edenburg gematrikuleer het, het hy ’n BA-graad van die Universiteit van die Vrystaat cum laude behaal. Hy het ook 'n rol in die akademie gespeel en was 'n emeritus-professor aan die Universiteit van Pretoria tot sy aftrede in 1994.

Sy werk sluit in 27 boeke in filosofie, poësie, fiksie, drama en memoires, waarvoor hy verskeie literêre pryse en talle toekennings ontvang het. Dit sluit in die Eugene Marais-prys, die MER-prys en die Scheepers-toekenning vir Jeuglektuur. Hy het ook bekendheid verwerf as dramaturg en radio-aanbieder.

Van Niekerk is 'n eredoktorsgraad in die Lettere toegeken tydens die UV se April 2021-gradeplegtigheid.

Die UV het in ’n mediaverklaring sy medelye met die familie en vriende van dié gevierde skrywer en alumnus van die UV betuig. “Dr Van Niekerk is 'n Kovsie-alumnus met 'n diep verbintenis met die Vrystaat. Hy het 'n beduidende rol in die land se literatuurgeskiedenis gespeel, en dit was 'n eer vir die universiteit om 'n eregraad aan hom toe te ken. ’n Woordsmid van formaat, dr. Van Niekerk se bydraes tot Suid-Afrikaanse letterkunde, radio en verhoog sal voortleef,” sê prof. Francis Petersen, Rektor en Visekanselier.

Volgens Versindaba het Van Niekerk aanvanklik hoorspele en hoorbeelde vir die radio geskryf. Sy eerste gedigte het in 1953 in Standpunte verskyn. Sy eerste prosawerk, Gannavlei, het in 1958 verskyn. Van sy bekendste jeugliteratuur is die bekende voorgeskrewe boek Skrik kom huis toe, 1968. Die bundel Lang reis na Ithaka, het in 2009 by Protea Boekhuis verskyn. Sy jongste bundel, Berigte uit die skemerland, verskyn by Imprimatur, 2019.

LitNet het ook met leedwese kennis van die afsterwe van Van Niekerk geneem en sy volgende aanhaling ter herinnering herhaal: "Ons hoef nie magteloos te word oor die agteruitgang van die omgewing nie. Herwin en dink voordat jy koop. Vra jouself af: Hóé leef ek? Ons moet minder praat en groot byeenkomste hou en meer dóén."

Die skrywer Daniël Lötter (49) is 'n boorling van die Bo-Karoo, waar hy van kleins af die kuns van stories vertel by meesters op dié gebied geleer het. Hy het op Facebook geskryf dat Suid-Afrika een van ons mees begaafde seuns verloor met die afsterwe van Van Niekerk - die laaste van die "Sestigers".

“Sy roman, Gannavlei, uit 1958 was die eerste boekvoorlesing wat ek ooit vir radio gedoen het en was ook die boek waaroor wyle dr. HF Verwoerd gesê het: 'Ek kan dit weer en weer lees, want dit laat my elke keer met groter trots en dankbaarheid  daaroor om Afrikaans te wees.'

“Van Niekerk se gedig oor die Karoo verwoord ook my gevoel oor daardie mees kosbare van landstreke,” het Lötter gesê.

“Sy lewe was vol en ryk en gevul met diensbaarheid, en sy sterfte laat ons met 'n ryk erflating. Mag u in vrede rus, prof. Dolf.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.