Central SA
Masels aan die toeneem in SA─── 09:07 Sat, 07 Jan 2023
Die Departement van Gesondheid in die ZF Mgcawu-streek het gevra dat ouers hulle kinders teen masels moet inent.
Hoewel die Noord-Kaap nog geen gevalle van masels tot op hede aangemeld het nie, dui die Nasionale Instituut vir Oordragbare Siektes se jongste verslag daarop dat masels aan die toeneem is in die land.
Die tussentydse verslag, wat Donderdag uitgereik is, toon dat daar tussen Oktober en Desember 2022 ‘n aansienlike toename in gevalle van masels aangemeld is.
Daar is 305 laboratorium-bevestigde gevalle - waaronder 11 in die Vrystaat , 131 in Limpopo, 69 in Mpumalanga en 80 in Noordwes, asook 14 in Gauteng.
Die Departement van Gesondheid in die ZF Mgcawu-streek se Anna Mbova sê inwoners - veral diegene in die platteland wat vêr van klinieke en ander mediese instellings is, moet seker maak dat hulle kinders deur middel van inentings beskerm bly.
Sy sê elke ouer het die verantwoordelikheid om hulle kinders se gesondheid hoog op die prys te stel.
OFM-nuus/Roderick Titus
