On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Roepman-vervaardiger (69) oorlede

───   BAMBATHA GIKO 11:56 Fri, 13 Jan 2023

Roepman-vervaardiger (69) oorlede | News Article

Die Afrikaanse regsgeleerde, rolprentmaker en digter Piet de Jager is oorlede in die ouderdom van 69 jaar. Hy word veral onthou as die vervaardiger van rolprente soos Roepman, Verraaiers,Stuur groete vir Mannetjies Roux, en Musiek vir die agtergrond.

Direkteur van Protea Boekhius, Nicol Stassen, sê De Jager was 'n baie talentvolle man wat op verskillende terreine in sy lewe 'n groot stempel afgedruk het, nie net onder mense wat hom persoonlik geken het nie, maar ook in die breër samelewing.

De Jager was bekend vir sy bundel gedigte in “Ouhout” en sy fassinasie met die Franse filosoof, Albert Camus, wat daartoe gelei het dat hy die Afrikaanse weergawe van Camus se “La peste” as “Die Pes” onder Protea Boekhuis gepubliseer het.

Hy is in 1982 as advokaat toegelaat tot die Pretoria-balie, waar hy in 1997 senior status (SC) verwerf het. In sy regsloopbaan was hy betrokke by talle opspraakwekkende sake, soos die Trojaanse perd-saak van die middel 1980’s, die Harms-kommissie oor korrupsie en die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) van die 1990’s. Hy het generaal Magnus Malan sowel as president P.W. Botha in die hof verdedig.

Stassen onthou sy jare lange vriend as een van die “nederigste en mees pretensielose mense” wat hy al in sy lewe ontmoet het.

“Hy was net só groots – ‘n humorvolle mens – en daar is omtrent niks wat op sy opgewekte geaardheid inbreuk sou maak nie. Ek is dankbaar dat ek Piet in my lewe kon ontmoet en dat ek baie ure baie lekker saam met hom kon gesels het.”

Volgens Stassen sal ‘n gedenkdiens Sondag 15 Januarie om 11:00 in die NG kerk Nooitgedacht by Bronkhorstspruit gehou word.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.