Central SA
Feesseisoen se padverkeerstatistieke vandag vrygestel─── 09:16 Tue, 17 Jan 2023
Die Minister van Vervoer, Fikile Mbalula, sal na verwagting Dinsdagoggend die padverkeerstatistieke vir die 2022/23-feesseisoen bekend maak.
Daar word ook van hom verwag om terugvoer te gee oor die pogings deur owerhede om padongelukke, waarby swaar voertuie op brandpunt-roetes betrokke is, te stabiliseer en te verminder.
Gedurende die 2021-’22-feestyd is meer as 1 600 padsterftes aangeteken. Dit was 'n toename van 14% teenoor die vorige jaar.
Padsterftes het toe in sewe provinsies toegeneem en in twee afgeneem. Die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal het die afname aangeteken, terwyl die Noord-Kaap en Wes-Kaap die hoogste persentasie toenames in sterftes aangeteken het.
Bestuur onder die invloed van alkohol, versuim om 'n veiligheidsgordel te dra, hoë spoed, verontagsaming van padtoestande en -tekens was van die faktore wat tot sterftes op die paaie bygedra het.
