On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Dominee, gesin van Brits nie in sak en as ná brand in pastorie

───   15:08 Sun, 22 Jan 2023

Dominee, gesin van Brits nie in sak en as ná brand in pastorie | News Article
Ds. Jan-Louis en Willemien Lee van die Gereformeerde Kerk Brits met (van links) Heinrich, Wihann en Janie.

’n Pastoriegesin van Brits in Noordwes is dankbaar vir al die hulp wat van alle kante aangebied word nadat hulle die naweek groot skade gely het toe ’n brand tydens beurtkrag ontstaan en die helfte van hul pastorie in puin gelê het.

’n Dominee van Brits in Noordwes vertel dis merkwaardig hoe die gemeenskap hom en sy gesin dra nadat ’n brand die naweek tydens beurtkrag ’n groot deel van hul pastorie in puin gelê het.

“ ‘n Mens besef eers as jy deur so iets gaan hoe die Here ’n mens in ’n gemeenskap plaas, in ’n situasie waar jy nou absoluut, absoluut afhanklik van ander mense is, en jy so bietjie jou trots moet sluk en net die hulp moet ontvang,” vertel ds. Jan-Louis Lee (35) van die Gereformeerde Kerk Brits. “Ek dink dis maar die eerste tree wat jy kan gee. Die een voet voor die ander. Dis soos om ’n marathon te hardloop.”

Brand Brits Gereformeerde Kerk pastorie Jan-Louis Lee Willemien

Kerse tydens beurtkrag

Hy vertel toe die krag Vrydagaand afgaan, het hy, sy vrou, Willemien, en hul oudste twee kinders, Janie (8) en Wihann (10), buite gesit, terwyl die jongste, Heinrich (6), reeds in sy kamer aan die slaap was.

Omdat die oudste twee bangerig was om in die donker binnetoe te gaan, het Willemien ingegaan en ’n kers aangesteek. Hulle plaas gewoonlik die kerse weg van enigiets wat aan die brand kan slaan, maar toe hulle weer sien, is dit net vlamme. “Teen die tyd dat ons in die huis kom, toe’s die hoofslaapkamer al basies verbrand.”

Brand Brits pastorie Gereformeerde

Jongste betyds uit brand gered

Ds. Lee vertel klein Heinrich, wat pas verlede week groot skool toe is, het vroeg al gaan inkruip. “Hy geniet gr. 1 terdeë. So sy lyfie was baie moeg. Hy slaap so twee kamers in die gang af van waar die brand begin het. Toe ons sien daar is vlamme en daar is niks wat ons kan doen nie, het Willemien vinnig vir Heinrich gaan uitruk uit die kamer uit, en ek het probeer om ’n tuinslang te kry om te red wat daar te redde is.”

Dit was nie tien minute nie, toe’s die EMS se brandweerdiens daar en die munisipale brandweer. “Hulle’t wonderlike diens gelewer,” vertel ds. Lee. Maar inwoners het ook blitssnel kom hand bysit. “Toe ek weer sien, is die klavier uitgedra … Omdat ons nou nie in daardie stadium geweet het waar die brand gaan eindig nie, het mense begin om my boeke uit die studeerkamer uit te vat en iemand het die honde opgelaai en hulle gaan bêre.”

Die deel van die ou pastorie wat afgebrand het, is die slaapkamers, die badkamers, die waskamer en die spens. Die brand het by die brandmuur gestop, hoewel daar ook skade aan die kombuis se plafon is. “So, wat in die slag gebly het, was al my en Willemien se klere. Dis nogal ’n interessante gevoel om te besef jou hele klerekas is daarmee heen,” vertel hy. “En al Janie se klere.”

Genadiglik het die seuns se klere die vlamme vrygespring. “Al die seuns se klere was nat en vol rook, maar dis nou gewas,” het ds. Lee Sondag vertel. “Dis eintlik vir ons verbysterend om te dink dit het niks oorgekom nie. Ons is baie dankbaar daaroor, want ons oudste het nou nogal (die afgelope week) ’n paar nuwe stukkies klere gekry van die skool, soos ’n nuwe kleurebaadjie en goed, waarop hy baie trots is. So dit sou ’n terugslag vir hom gewees het. Maar ou Jaansie se goed is weg …”

Badkamer brand Brits Gereformeerd Kerk pastorie

Genade op genade

Die gemeente se diakonie het Vrydagaand nog vir hulle geld oorbetaal sodat hulle die nodigste kon vervang en hy en Willemien solank klere kon koop. Ook die skoolgemeenskap van die Laerskool Brits, waar sy vrou skoolhou, het kom help waar hulle kan. “My vrou ken hulle … maar ek ken hulle nie, mense wat ek in my lewe nog nie gesien het nie.

“Die genade is, jy weet, jy dink: Sjoe daar is niks. Maar as jy weer sien, dan stop iemand daar en sê: ‘Ons het gehoor van julle verlies. Hier is ’n sak klere vir die dogtertjie.’ Of: ‘Hier’s skoolklere.’ En: ‘Kort julle iets?’ Regtig, dis wonderlik om te ervaar.”

Nog ’n genade is dat sy boekeversameling in die studeerkamer niks oorgekom nie, en ook nie dié in die sitkamer nie. ‘Ek’s ’n bietjie van ’n ‘boekholis’. Ek het baie fiksie wat in die sitkamer was, wat geen skade gely het nie, en boeke van my oupa …  hy’t nogal baie goed oor die Tweede Vryheidsoorlog gehad; dis erfstukke daai, en ek is bly dit het niks oorgekom nie.”

Nie in sak en as nie

Gevra hoe ’n mens so iets verwerk, sê ds. Lee: “Dit is nou vreemd. Dit is ’n predikant met wie dit gebeur het. En dan, die oomblik as jy nou daar staan, is dit net konkreet as jy, as jy …” Sy emosies wil-wil hom oorweldig. “Ons is net dankbaar dat Heinrich niks oorgekom het nie. Dis vir ons regtig nou ’n saak van gebed en die pad stap saam met die kerkgemeenskap waarbinne ons is. Ek bedoel, die boodskappies van vertroosting en die ondersteuning wat ons gekry het, is merkwaardig. Maar …  ons weet waar ons hulp vandaan kom.”

Die gesin besef dis nie ’n maklike pad wat voorlê nie. “Die een groot ding wat ek en Willemien nou al baie vir mekaar gesê het hierdie afgelope twee dae is, jy weet, waar jy gaan onthou: Jô, maar ek het hierdie ding daar in die kas gehad, hierdie foto was daar teen daardie muur, en daai rokkie het sy vir daardie spesiale geleentheid gekry, en ek het nog my troupak gehad …  

“Dit gaan maar daaroor gaan dat ’n mens moet besef: Dis nou in die verlede. Jy kan daaroor treur (as dit sin maak?), maar ons het soveel ondersteuning dat ’n mens nie eintlik nou by wyse van spreke in sak en as kan sit nie – no pun intended.”  

“Ons kyk nou maar wat met die versekering gaan gebeur, maar daar’s hoeveel mense wat net hand opgesteek het en gesê het: ‘Hier is ons. Gebruik ons. Wat kan ons vir julle doen?’ Ons kan nie genoeg dankie sê daarvoor nie.”

OFM-nuus/Morné van Rooyen

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.