Central SA
Twee troosdienste vir Luan Nel gehou ná skokdood in Bloemfontein─── BAMBATHA GIKO 20:26 Wed, 01 Feb 2023

Oudkoshuismaats van Luan Nel, die jong man wat Saterdag in die parkeerterrein van ’n Bloemfonteinse winkelsentrum gesterf het, hou Donderdagoggend ‘n troosdiens vir hom in die Universitas Geloofsentrum in die stad.
Dit word gevolg deur ’n troosdiens Saterdag om 11:00 in die NG kerk Aberdeen op sy tuisdorp.
Die 22-jarige oud-Kovsie, wie se familie in die Oos-Kaap boer, het Saterdagoggend ure lank deur Bloemfontein gedwaal nadat hy sy motor die nag op die Abrahamskraalpad buite die stad gerol het.
Vriende het hom ná die ongeluk na hul huis in Langenhovenpark geneem waar hy ’n rukkie geslaap het.
Intussen het sy suster Lizelle Nel, by wie hy die nag sou oorgeslaap het, vroeg die oggend saam met ander na hom begin soek. Eindelik het hulle sy motor langs die pad gekry.
’n Veiligheidswag het omstreeks 12:45 op sy liggaam in Mimosa Mall se parkeerterrein afgekom. Die polisie het nog nie die oorsaak van sy dood bekend gemaak nie.
Volkskool Graaff-Reinet Oudskoliere het op Facebook geskryf Luan, wat in 2018 in matriek was, was een van 23 klasmaats wat van graad 1 tot graad 12 in dié geskiedkundige Oos-Kaapse hoërskool was.
“Hy was passievol oor Landsdiens en het provinsiale kleure vir Landsdiens verwerf. Luan was ook lief vir sport en het HVS in onder meer tennis en rugby verteenwoordig. Hy was ’n VCSV-kringleier, en in sy graad 12-jaar het hy in die leerlingraad gedien.”
Hulle sê hy het in matriek besluit om Landbou Ekonomie aan Kovsies te studeer. Hy sou in Maart na Amerika vertrek het om daar te gaan boer nadat hy sy pa, Jan, die laaste tyd op hul Karooplaas gehelp het.
Sy klasmaats beskryf hom as “ ‘n grapjas wat almal altyd kon vermaak. Hy was letterlik die definisie van lojaal, soms ’n loskop, maar báie intelligent, verskriklike goeie algemene kennis en soms ’n stoutgat”.
’n Ander klasmaat van destyds sê: “Hy was die tipe vriend wat elke mens droom om te hê, jy weet wat jy in hom het en weet dat hy altyd daar sal wees. Ongelooflik vriendelik met die lekkerste en aansteeklikste lag. Maak nie saak hoeveel tyd verbygegaan het of hoe ver ‘n mens van hom af was nie, hy kon jou altyd laat lag en het die afstand en tyd soos niks laat voel nie.”
Hy word ook oorleef deur sy suster Sané van Dyk en sy ma, Christelle.
OFM-nuus/Bambatha Giko