Central SA
Joernalis se memoires oor verliese, oorwinnings gee hoop─── 16:00 Mon, 06 Feb 2023
Die bekroonde skrywer en joernalis Herman Lategan is berug én beroemd vir sy uitgesprokenheid en kwinkslae oor alles onder die son.
Dié woordtowenaar se memoire, Hoerkind, word Maandagmiddag deur 'n voormalige OFM-aanbieder, Johrné van Huyssteen, en Bethlehem se Leeskring in die biblioteeksaal bespreek.
"Ek dink Hoerkind is baie rou en eerlik. Ons almal het geraamtes in die kas, so dit is baie interessant om te kan sien hoe iemand net absoluut eerlik is oor al die foute wat hy gemaak het en homself aanvaar het. Ja, dit is skokkend, maar ek dink dit is baie goed dat mense nie net fiksie lees nie. Jy weet 'n mens kan stories lees totdat jy blou is, maar dit is altyd goed om mense se stories te hoor. Dit motiveer jou om dinge in jou verlede te konfronteer of om te dink 'hoekom tree ek op 'n sekere manier op'. Dit is my motivering om Hoerkind te lees – jy gaan definitief groei as ‘n mens.
"Wat my sal bybly van die boek is die broosheid en eerlikheid van die skrywer, hoe Herman, soos die Engelsman sal sê 'He just spilled the beans'. Selfs die name wat hy genoem het van die mense wat hom tenagekom het, hy is 'n waaghals. Ek dink dit verg geweldig baie om jouself só bloot te stel voor mense. Ek dink dit motiveer mense ook om dieper na hulself te kyk. Die broosheid in die boek sal my altyd bybly, ook die broosheid van die lewe," het Van Huyssteen gesê.
Memoires oor verliese, oorwinnings
In Hoerkind, die memoires van 'n randeier, vertel hy sy lewensverhaal sonder doekies omdraai.
Lategan skryf hoe hy in 1964 buite die eg gebore is, as sesjarige by ’n kinderhuis afgelaai is en sy woorde opgedroog het, deur die kerk verwerp is, in losieshuise grootgeword het, mishandel is, digters en skrywers bevriend het, Andy Warhol in New York agtervolg het, in rehabilitasiesentrums was, en eindelik ’n lewe as ’n skrywer gemaak het en by die End Conscription Campaign betrokke was.

Van jongs af het hy soos ’n weggooimens gevoel, want hy is deur grootmense wat die lewe op onvaste voet betree het, van die een stel hande na die ander aangegee.
Sy ma trou later met 'n druiweboer van Lutzville. Tydens skoolvakansies, as hy vir haar gaan kuier, raak die boer besope en rand hy hulle aan. Hy probeer hom verkrag, maar sy ma stop dit. Dié boer noem hom aanhoudend 'n hoerkind en skiet met 'n geweer op hulle. Vele nagte moes hy en sy ma in die wingerde gaan skuil. Nadat sy 'n mastektomie kry, verban hy haar na die spaarkamer.
Hy spandeer gelukkige tye in Van Wyksdorp op sy stiefoupa, Hannes Snyman, en stiefouma, Elga, se plaas in Van Wyksdorp, waar hy sommige naweke gaan kuier. Hier leer hy appelkose pluk, skape aanjaag, in die plaasdam swem, visvang en oor die wondere van roosterkoek.
Die kloue van ’n geslepe pedofiel
Op 13 beland hy in die kloue van ’n geslepe pedofiel, ’n bekende Afrikaanse koerantman in daardie jare. Pas ná sy 18de verjaarsdag, wanneer sy molesteerder met hom klaar is, word Herman sonder seremonie voor die deur van sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai.
In sy tienerjare bevriend hy Afrikaanse digters soos Sheila Cussons, Ina Rousseau, Barend J. Toerien en Casper Schmidt. Hy studeer onder die akteur Babs Laker. Hulle tree op as mentors en verbreed sy denke.
Ná skool doen hy sy diensplig, maar word oneervol ontslaan en kom hy in 1986 in New York aan, waar hy onder andere vir die kunstenaar Andy Warhol op straat agtervolg. In hierdie groot stad word hy aan 'n kosmopolitiese wêreld blootgestel en beleef hy 'n samelewing sonder apartheid, waar mense van alle kleure gelukkig saamwoon. Dit gee vir hom nuwe insigte oor Suid-Afrika.
Terug in dié land beland hy alleen en verarm op straat, maar word later deur 'n vriendin se ma gered. Hy maak later opgang as joernalis wat na die wydste hoeke van die wêreld reis, ook Antarktika.
As volwassene voer hy ’n stryd met drank en dwelms, en beland hy oor 'n kort tydperk in vyf rehabilitasiesentrums. Hy woon vir 'n jaar in die Heilsleër. Omdat hy aan bipolêre gemoedsteurnis ly, word hy met sy gemoedskommelinge vir menige werkgewer die nagmerrie wat hulle die ergste vrees.

Herman Lategan FOTO: Media24
Hoerkind is ’n aangrypende relaas oor verlies én oorwinning wat jou sal laat lag, en jou hart ’n paar keer breek. Jy sal jou kop skud oor die wreedheid van ’n wêreld waar mense aan mekaar uitgelewer is, maar jy sal verwonderd staan oor die omvang van goedheid, juis omdat mense op mekaar aangewese is.
Hoerkind, die memoires van 'n randeier, word deur Penguin gepubliseer. Dit is in die meeste boekwinkels beskikbaar en kan ook as e-boek aanlyn bestel word.
