Central SA
Historiese beelde verdwyn by Boekenhoutfontein─── 12:36 Mon, 06 Feb 2023
Beelde van onskatbare historiese waarde, waaronder ’n borsbeeld van president Paul Kruger, het by Kedar Heritage Lodge in Noordwes weggeraak.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke in die noordelike provinsies is naarstigtelik op soek na hierdie beelde wat vermoedelik Vrydag 3 Februarie 2023 uit die gastehuis gesteel is.

Die borsbeeld van oud-president Paul Kruger wat gesteel is. FOTO: FAK
Die gastehuis is geleë op die plaas Boekenhoutfontein, buite Rustenburg, wat aan die oud-ZAR-president behoort het.
Kultuurkoördineerder van die FAK, Barry Müller, sê hierdie diefstal is ’n vreeslike terugslag vir erfenisbewaring.
“Die FAK is uiters bekommerd oor hierdie beelde wat verdwyn het,” het hy vertel. “Na ’n jaar soos 2022 waarin erfenisbeskadiging hoogty gevier het, het die FAK dit ’n doel gemaak om die beskadiging vanjaar hok te slaan, en om die jaar af te skop met so ’n diefstal is uiters skokkend. Ons kultuurnetwerke is reeds hard op soek na die beelde en maan die publiek om op die uitkyk te wees hierna.”
Sarah Ripley Forsyth, eienaar van die Kedar Heritage Lodge, sê sy is ongelooflik hartseer dat die beelde gesteel is.
“Dit is ’n groot tragedie,” het sy gesê. "Ons het tydens die Covid-19-inperking besluit om al ons beelde na ’n veilige ateljee te verskuif met alarms om seker te maak dié historiese skatte bly behoue. Toe ons dus besef ons beelde is gesteel, was dit ’n ongelooflike skok."
Forsyth vertel dat vier beelde, waaronder ’n borsbeeld van pres. Paul Kruger, twee metaalleeus en “Die man in brons”, ’n uitbeelding van ’n soldaat, gesteel is.

Die man in Brons”, ’n uitbeelding van ’n soldaat, is ook gesteel. FOTO: FAK
“Ek het twee dae van skrootwerf na skrootwerf gery in die hoop om dalk die beelde êrens raak te loop, daarom is ek baie dankbaar vir die FAK se kultuurnetwerke wat selfs in Krugersdorp en Pretoria ingespring het om te help.”
Kontak vir Barry Müller (barry@kultuurtuiste.co.za) in die noordelike provinsies, Jan-Danie Malan (jandanie@kultuurtuiste.org.za) in die Vrystaat, of Elizma Smith (elizma@kultuurtuiste.org) in die Kaapprovinsies.
FAK/Freddie Hardman
