On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Fietsryer herstel goed ná ongeluk op Abrahamskraal-pad

───   12:22 Tue, 07 Feb 2023

Fietsryer herstel goed ná ongeluk op Abrahamskraal-pad | News Article
FOTO: Facebook

’n Wiskunde-onderwyseres van die spogskool Eunice in Bloemfontein herstel goed nadat ’n motoris haar op haar fiets in Bainsvlei raakgery het. Haar voorbereiding vir ’n half-ysterman-kompetisie einde 2023 is egter nou onderbreek.

Charl Theron (24), ’n Bloemfonteinse dokter wat sy internskap by die Nasionale Hospitaal doen, en sy vrou, Friedl (24), het vroeg Sondagoggend 29 Januarie 2023 soos menige fietsryers op die Abrahamskraalpad gaan oefen. “Die son was agter ons en dit was in die bestuurder se oë gewees. Ons was aan ons kant van die baan – heeltemal aan die linkerkant van die pad. En soos ons om ’n draai gery het, het hy óf uitgeswaai vir ‘n slaggat óf hy was op sy selfoon – ek het geen idee nie. Maar om een of ander rede was hy in ons baan en het hy my vrou agter my getref. Hy het my net-net gemis en haar ongelukkig raakgery.”

Theron het deur sy pa ’n ambulans ontbied. Die motoris self en ’n paar ander motoriste het ook gestop. Hulle het sy vrou gestabiliseer, vanwaar sy Mediclinic Bloemfontein toe geneem is. Sy het effense bloeding op die brein gehad, effense brein-edeem ('n geswelde brein) en bietjie harsingskudding, vertel haar man.


“Gelukkig het die neurochirurg nie nodig gehad om te opereer nie. My vrou herstel nog van die harsingskudding. Sy het ook een van haar gesigsbene gebreek. Sy het ’n paar tande uitgeval en ’n paar snye aan haar gesig opgedoen, wat die plastiese sjirurg net mooi geheg het.” Ná drie dae in die hospitaal herstel sy nou by die huis.


Hulle gaan definitief weer oefen want dit is hulle lewenstyl. Of hulle weer sal fietsry is moeilik om nou te sê, dit hang van verskeie faktore af. “Ek los daardie besluit in my vrou se hande, sy sal besluit.”

“Motoriste en fietsryers is almal saam op die pad, op dieselfde tyd. Ons moet maar net bewus wees dat ons almal die pad deel en ons moet net wakker wees,” is Theron se raad.


Die polisie ondersoek tans 'n saak van roekelose bestuur.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.