Central SA
ANC verwerp ontheffing van Kai Garib se burgemeester, bestuurder─── 07:04 Thu, 09 Feb 2023
Die provinsiale sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, Deshi Nxanga, sê pogings deur die opposisie in die Kai Garib-munisipaliteit om stabiele regering te ontwrig en in die proses dienslewering aan inwoners te weerhou, is 'n bron van kommer.
Dit volg ná ‘n spesiale raadsvergadering waarin ’n ANC-raadslid na bewering saam met die opposisie gestem het om die burgemeester, speaker en waarnemende munisipale bestuurder van hulle ampte te onthef.
Nxanga sê die voortslepende onwettige raadsvergaderings deur politieke opposisie wat regoor die provinsie plaasvind, is daarop gemik is om “alle ANC-beheerde plaaslike regerings deur ‘n mosie van wantroue te destabiliseer”.
Hy sê die gebeure by die Kai Garib-raadsvergadering is een so ‘n voorbeeld en dat die burgemeester, speaker en munisipale bestuurder wel in hul ampte sal aanbly terwyl die LUR vir korporatiewe regering en tradisionele sake, Bentley Vass, gevra is om die dooiepunt te besleg.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Nosuko Mdaka, sê hulle neem kennis van die wantrouemosie maar is van mening dat die regte prosedure gevolg moet word.
Nxanga sê behoorlike ondersoek sal gelas word, wat met dissiplinêre optrede gepaard sal gaan indien bevind word dat die bewerings, dat ‘n ANC-raadslid saam met die opposisie gestem het, waar is.
Trompie Renier van die Hope for the Future-gemeenskapsforum is op die spesiale raadsvergadering as burgemeester aangewys, Marius Basson as speaker en Mondi Alister as waarnemende munisipale bestuurder.
OFM-nuus/Roderick Titus
