On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Henley-on-Klip se engel versorg andere ná haar eie swaarkry

───   BAMBATHA GIKO 17:37 Fri, 10 Feb 2023

Henley-on-Klip se engel versorg andere ná haar eie swaarkry | News Article
Alinah Ntswaki Khan van Henley-on-Klip, besig om mense vanuit haar motor kos te gee.

’n Barmhartige vrou van Henley-on-klip in die Vaaldriehoek help mense in nood, ten spyte van haar eie swaarkry.

Alinah Ntswaki Khan, ook bekend as Poppy of 'die engel van Henley-on-klip', help al die afgelope twee jaar mense in nood deur kos wat aan haar geskenk is, met hulle te deel.

Khan ken armoede. Toe sy tydens die Covid-19-pandemie swanger was, het sy nie blyplek gehad nie en was sy en haar vier kinders in ‘n stryd gewikkel  teen hongersnood.

Terwyl ander baba’s die voorreg van Purity-babakos ken, moes haar pasgebore dogter selfs sonder noodsaaklikhede klaarkom.

'Het haar tot gebed gewend'

Khan verduidelik dat sy, soos enige ander persoon in haar posisie, haar tot gebed gewend het om haar armoede aan te spreek.

“Ondanks die situasie waarin ek myself bevind het, het ek vir God gevra dat ek eendag andere moet kan help. Die mense wat op straat slaap, die kinders wat wees gelaat is, die mense wat nie kos en klere het nie. Want, ek het dit self geproe.”

Behoeftig en desperaat vir hulp, het sy haar na 'n gemeenskapsradiostasie gewend om oor haar situasie te praat. Dit is hier waar sake ten goede begin verander het. Luisteraars het ingebel en aangebied om klere en groente te skenk.

Khan is die kontakbesonderhede van ‘n vrou, wat 'n spysenieringsonderneming in Alberton bestuur, gegee by wie sy oorskietkos gekry het om haar kinders te voed en met ander behoeftiges te deel.

Sy het gereeld die kosskenkings wat sy gekry het, gaargemaak en die kos vir inwoners van die gemeenskappe wat sy besoek het, gegee. Sy het later ‘n motor van haar broer ontvang wat dit makliker gemaak het om verskillende gemeenskappe te besoek.

Haar liefdadigheid is onlangs aan bande gelê toe haar motor onklaar geraak het, maar dit keer haar nie om te doen waarvoor sy voel sy is geroepe nie.

Die ma van vier reis deur die Vaaldriehoek en deel kos, klere en selfs rolstoele uit. Toe huise in Sasolburg afgebrand het, het mense haar gebel en haar gevra om te help.

Met die hulp wat sy van gemeenskapslede ontvang, kon sy al verskeie mense help en neem sy selfs straatkinders onder haar vlerk. Wanneer moontlik, kry sy vir hulle skoolklere en probeer sy om hulle in die skool te hou.

'Kinders het liefde nodig'

“Dit is moeilik om op straat te leef en kinders het liefde nodig terwyl hulle groei.”

Khan voed tussen 200 tot 300 mense in verskillende gemeenskappe. Sy sê die enigste uitdaging is ruimte om al die mense en weeskinders wat sy voed, te akkommodeer. Vervoer om rond te beweeg het ook 'n uitdaging geword.

Soos wat die aantal mense wat sy help, toeneem, so neem die hoeveelheid goedere wat sy vervoer ook toe.

Met die prys van basiese voedselprodukte wat steeds styg en die bedreiging van voedselsekerheid, moedig Khan mense aan om as 'n gemeenskap saam te kom en mekaar te help.

OFM-nuus/Bambatha Giko

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.