Central SA
AfriForum Jeug bied regshulp aan geskorste Puk-studenteleier─── 05:51 Thu, 16 Feb 2023
AfriForum Jeug het ingetree om ’n lid van die kampusstudenteraad (KSR) van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom met regshulp by te staan nadat sy uit haar amp verwyder is.
Die jeugorganisasie sê hy beskou die verwydering van Beàtha Groenewald, gewese KSR-sekretaris, as ‘n poging deur die universiteit om rasse-uitsluiting toe te smeer en die illusie te skep dat hulle wel daadwerklike aksie geneem het.
Groenewald is uit haar amp verwyder, glo omdat sy nie saamgestem het met ‘n besluit om studente van dorpskoshuise by die universiteit se verwelkomingsfunksie uit te sluit nie, glo weens hul rasse-samestelling.
Die KSR het Dinsdag aangekondig dat Groenewald uit haar amp verwyder is nadat ’n mosie van wantroue teen haar gebring is. Die redes wat hiervoor gegee is sluit in dat sy nie haar pligte as KSR-lid nagekom het nie en dat sy “skuldig is aan die ongemagtigde verspreiding van vertroulike inligting aan eksterne partye”.
“Dit is hoogs verdag dat die Puk, ná die media-storm oor die gebeure van die afgelope naweek só haastig opgetree het om ’n skynbaar onskuldige KSR-lid af te dank. Hierdie lyk soos ’n desperate poging deur die universiteit om die indruk te probeer skep dat hulle teen die ernstige bewerings van rasse-uitsluiting optree,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.
“Die KSR-voorsitter, Yikumba Andreas, behoort ook te verduidelik na watter ‘vertroulike inligting’ hy verwys, wanneer hy haar daarvan beskuldig dat sy dit ongemagtig versprei het.”
Groenewald sê die optrede teen haar was onregverdig. “Ek is uit my amp verwyder op grond daarvan dat ek vertroue met die studenteraad verbreek het, maar die waarheid is dat ek probeer opstaan het vir wat reg is en om die studente, wat my in hierdie leierskapposisie ingestem het, te probeer verdedig teen ongeregtigheid.”
Die universiteit sê die rede vir die uitsluiting van dorpskoshuis-studente by die verwelkomingsfunksie bloot weens ‘n tekort aan kapasiteit was.
Die jeugorganisasie sê hy aanvaar nie die Puk se antwoord nie en sal voortgaan met sy eie ondersoek.
