Central SA
Vaaldam: 10 sluise oop weens voortslepende reën─── 09:05 Sat, 18 Feb 2023
Inwoners en veral boere langs die Vaal- en Oranjerivier in die Noord-Kaap word aangemoedig om versigtig te wees aangesien die twee riviere se vlakke styg.
Tien van die Vaaldam se sluise is reeds oopgemaak, en stel tans 1 800 kubieke meter water per sekonde vry.
Wisane Mavasa, nasionale water- en sanitasiewoordvoerder, sê dieselfde hoeveelheid water vloei uit die Bloemhofdam, met die Vanderkloof en Gariep wat onderskeidelik 1 000 en 1 500 kubieke meter per sekonde vloei.
Sy voeg by dat as gevolg hiervan 'n drastiese styging in watervlakke verwag word, wat 'n gevaar vir mense en diere inhou asook infrastruktuur kan beskadig.
Sy maan ook die publiek om versigtig te wees naby die riviere weens die watervloei en styging. President van die Oranjerivier-landbou-unie, Wilco Fourie, het reeds aan OFM-nuus kommer uitgespreek oor plekke waar keerwalle nie herstel is nie, terwyl boere aangesê is om pompe uit die water te verwyder asook diere en ander infrastruktuur na hoër gebiede te verskuif.
Fourie sê hoewel die meeste van die druiwe-oes reeds verby is, is daar plekke waar boere nog stroop.
Hy sê laagwater brûe en strome moet vermy word.
OFM Nuus/Roderick Titus
