On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Gesondheidsdepartement kos Noord-Kaapse burgers hul lewe

───   BAMBATHA GIKO 12:46 Wed, 22 Feb 2023

Gesondheidsdepartement kos Noord-Kaapse burgers hul lewe | News Article

'n Bejaarde vrou het op pad kliniek toe gesterf weens die onbeskikbaarheid van noodvoertuie in Britstown, in die Noord-Kaap.

Die DA se Bennie Swanepoel sê weens die gebrek aan ambulanse moes die familie die oorledene, Flora Windvoël, met 'n rolstoel kliniek toe neem. Windvoël is Woensdag 22 Februarie 2023 oorlede.

Nog 'n slagoffer is dood as gevolg van die ontoereikendheid van die gesondheidsorgstelsel in Britstown. Die 52-jarige Nomsa Ntloko het die naweek by haar huis doodgebloei. Swanepoel sê daar was geen ambulans om haar hospitaal toe te neem nie, aangesien die enigste beskikbare ambulans onklaar was.

Daar was 'n privaatambulans by die Attie Jooste-kliniek geparkeer. Die Ntloko-familie kon egter nie die diens bekostig nie, wat na bewering R1 500 beloop. Swanepoel voeg by dat die Departement van Gesondheid ook huiwerig was om die privaatambulans vir die pasiënt te borg.

“Sowat 60% van die inwoners is werkloos. Hulle kan nie R1 500 bekostig om by 'n hospitaal uit te kom nie. Wat moet jy nou doen? Die staat is ook nie bereid om daardie ambulans vir jou te betaal nie.”

Swanepoel verduidelik inwoners sukkel dikwels om by die naaste hospitaal in De Aar uit te kom, 54,8km van Britstown. In sommige gevalle moet 'n ambulans van Vosburg, wat 65,2 km verder is, pasiënte na die De Aar-hospitaal vervoer.

“Wie kan 'n R1000 – R1500 bekostig? Dis gods-onmoontlik. Die regering, hierdie een in die Noord-Kaap, is besig om ons almal vir 'n ride te vat. Hulle vat ons vir ‘n politieke ride. En hierdie gesondheidsdepartment vat ons ook vir 'n ride. Hulle sal nie die ambulans uitstuur nie, tensy daar ‘n ingryping is.”

In 'n aparte voorval is 'n pasgebore baba in sy ma se arms in Fraserburg, ook in die Noord-Kaap, dood. Die ma, Catherine Constabel, het probeer om nooddienste te kontak. Die dorp se ambulans was egter buite werking. Die naaste hospitaaldiens is in Sutherland, wat meer as 100km verder is.

Constabel vertel aan OFM-nuus sy was besig om te kraam toe sy probeer het om nooddienste te kontak. Die ambulans het egter nooit opgedaag nie. Die plaaslike polisie het eers ure later opgedaag en haar hospitaal toe geneem.

In Maart 2022, het die departement se LUR, Maruping Lekwene, gesê hulle het sedert 2019 'n bedrag van R50 miljoen in 92 nuwe voertuie belê. In Oktober 2022, het Lekwene gesê dat sy departement die verkryging van 54 voertuie verwerk, bestaande uit 32 ambulanse, 20 4x4 ambulanse met veldrykapasiteit, en twee pasiëntvervoerders.

Ten spyte van die departement se pogings bly 'n aantal dorpe soos Britstown en Fraserburg steeds sonder ambulanse om op noodgevalle te reageer.

LEES OOK: Northern Cape to improve emergency services

OFM het 'n media-navraag aan die departement van gesondheid gestuur en geen reaksie is tot dusver ontvang nie.

OFM-nuus/Bambatha Giko

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.