Central SA
Gift of the Givers span helikopter in vir hulp aan Keimoes─── 05:49 Thu, 02 Mar 2023
Die humanitêre hulporganisasie, Gift of the Givers, verleen hulp in die Kai Garib-munisipale gebied waar elf eilande van Keimoes in die Noord-Kaap van die buitewêreld afgesny is nadat die Oranjerivier sy walle oorstroom het.
Die groep gebruik ‘n helikopter om voedsel en water, asook mediese noodvoorraad, na inwoners te bring.
Die eilande is oorstroom nadat die departement van water en sanitasie die waterdruk in die Vaaldam verlig het deur vier sluise oop te maak, wat tot die grootskaalse oorstromings in die gebied gelei het.
Verskeie brûe en paaie, insluitend die duikweg en voetoorgangersbrug stroomop by Upington, is weens die water gesluit.
Gift of the Givers se Emily Thomas sê hulle is deur die dorp en sy rampbestuurspan genader om hulp te verleen na ‘n versoek aan die Suid-Afrikaanse weermag vir ondersteuning glo deur die mat geval het.
Hulp van onder meer Henley Air-helikopters is bekom wat die groep in staat stel om inwoners te kan bereik.
Die departement van water en sanitasie het inwoners gevra om nie die watersterkte te onderskat nie.
OFM-nuus/Roderick Titus
