Central SA
‘Oortydbetaling aan Mangaung-werkers nie geregverdig’ – VF Plus─── 08:11 Tue, 07 Mar 2023
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in die raad van die Mangaung-metromunisipaliteit het sy misnoeë uitgespreek dat die raad se aansuiweringsbegroting voorsiening maak vir ‘n oorbesteding aan oortydbetaling aan die stad se metropolisiediens.
Die aansuiweringsbegroting is Maandag 6 Maart 2023 tydens ‘n spesiale raadsvergadering goedgekeur. Die VF Plus se raadslid in die Mangaung-metro, Braam Vorster, sê die oorbesteding aan oortydbetaling is ongemagtig.
“Die VF Plus keur nie die bykomende R11 miljoen wat vir die metropolisiediens toegeken word, goed nie. Daar is reeds R216 miljoen vir die metropolisie in die 2022/23-boekjaar begroot. Ons het die metroraad herhaaldelik in die verlede gewaarsku dat daar nie genoeg geld vir 'n metropolisiediens is nie.
“Tog word daar jaarliks vir die departement, wat nie in werking is nie, begroot en boonop word geld vermors deur dit aan oortydbetaling te bestee. Dit maak glad nie sin nie.”
Luidens die halfjaarverslag het die metropolisiediens reeds R5 miljoen aan oortydbetaling oorbestee.
“Indien hierdie optrede voortgaan, gaan die aanpassing van R11 miljoen bloot gebruik word om vir die ongemagtigde betaling van oortyd voorsiening te maak. Die totale uitgawes vir die metropolisiediens sal sowat R227 miljoen vir die 2022/23-boekjaar beloop.
LEES OOK: Mangaung #MetroPolice debacle continues
“Ander departemente oorbestee ook aan oortydbetaling, naamlik koöperatiewe dienste (R2,5 miljoen), ingenieursdienste (R13 miljoen), water (R10 miljoen) en afval- en vlootbestuur (R14 miljoen).
Die VF Plus sê hy is bekommerd dat hierdie vergrype onder die wakende oog van die nasionale ingrypingspan, wat toesig hou oor die finansiële herstel van die metro, toegelaat word.
“Die stad is vervalle en die inwoners van Mangaung ontvang geen dienslewering wat die betaling van oortyd regverdig nie.”
