On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

DA veroordeel wrede moord op plaasvrou

───   17:05 Tue, 07 Mar 2023

DA veroordeel wrede moord op plaasvrou | News Article
Die vermoorde Christine Walters op haar plaas. FOTO: Facebook

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap het die gru-moord op die 74-jarige Christine Walters, Vrydag op haar plaas in die Calvinia-distrik, veroordeel.

Volgens Netwerk24 is sy Vrydagaand sowat 50m van haar huis met ‘n koeëlwond aan haar kop gevind. Haar hande was glo agter haar rug met draad vasgebind, en daar was 'n gordel om haar nek.

“Ons is geskok oor die wreedheid van haar moord en dra ons simpatie aan haar familie oor,” sê die DA se provinsiale woordvoerder oor landbou en omgewingsake, Reinette Liebenberg.

“Die misdaadstatistiek wat onlangs vrygestel is, toon 'n besliste toename in geweldsmisdaad in die provinsie. Die moord op Walters is nie toevallig nie, maar tekenend van die toenemend wettelose en onveilige samelewing waarin ons leef.”

Die DA het die polisie geloof vir die spoedige aankeer van drie verdagtes oor die naweek.

“Ons bly bekommerd dat die ligging van die wapens wat ten tyde van die moord op die plaas geroof is, nog onbekend is, en ons doen 'n beroep op die polisie om geen steen onaangeroer te laat om dit op te spoor nie,” sê Liebenberg.

Sy sê die DA sal verwikkelinge in die saak dophou “om die familie te ondersteun, die polisie aanspreeklik te hou en die hofverrigtinge te monitor totdat geregtigheid geskied het”.

Talle vriende en familie het huldeblyke en medelye op haar Facebook-bladsy gelaat. “R.I.V. liewe tannie Christine. Ons sal altyd die spesiale tye om die kombuistafel onthou op die plaas Papekuil. Tannie was 'n YSTERVROU in murg en been en 'n voorbeeld vir baie!” skryf Anrie van der Walt.

“Tannie Christine, jy sal gemis word. Die ure wat ons weg gepraat het was van die beste wat ek gehad het,” skryf Allan Cawood.

Drie verdagtes, waarvan een glo ‘n voormalige plaaswerker is, is in hegtenis geneem en sal op aanklagte van moord en roof in die hof verskyn.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.