Central SA
Beskuldigdes in bedrogsaak betwis boddokumente─── CHARNÉ KEMP 08:36 Thu, 09 Mar 2023
’n Twispunt is Woensdag verder gevoer in die hoëprofiel-bedrogsaak in die hooggeregshof in Kimberley oor ’n Bloemfonteinse sekuriteitsmaatskappy wat na bewering ’n onreëlmatige kontrak van R384 miljoen bekom het.
Die beweerde onreëlmatige kontrak is glo met die hulp van die eertydse Noord-Kaapse departementshoof van gesondheid bekom.
Die twispunt handel oor die geldigheid van die oorspronklike tenderdokumente waarop die staat steun. Die bodkontrak is in 2017 toegestaan.
Drie beskuldigdes
Die aangeklaagdes is Renier van Rooyen en Claudius Peterson, en hul Defensor Electronic Security Systems-maatskappy, en Steven Jonkers, gewese departementshoof en nou die Noord-Kaap se adjunk-direkteur-generaal. Almal word van bedrog aangekla en Jonkers ook van oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).

Defensor Electronic Security Systems se perseel in Bloemfontein.
Die staat voer aan Defensor het nie ’n geldige belastingklaringsertifikaat en drie jaar se geouditeerde finansiële state as deel van hul bod ingedien nie. Dit, tesame met ’n geldige sertifikaat van die Reguleringsowerheid vir die Privaatveiligheidsbedryf (Psira) wat ook nie ingedien is nie, is ’n noodsaaklike vereiste. Hulle het na bewering die departement mislei. Jonkers het as rekenpligtige amptenaar glo strydig met sy personeel se aanbevelings die bod aan Defensor toegestaan.
Ontken skuld
Die beskuldigdes het Maandag, met die aanvang van die verhoor en nadat hulle skuld ontken het, gesê hulle betwis die outentisiteit van die boddokumente wat in die forensiese ondersoek gebruik is.
Die eerste staatsgetuie is Trevor White, forensiese ondersoeker van PWC, wat in opdrag van die tesourie getuig. Hy het in sy getuienis daarop aangedring dat die dokumente wat deur die polisie in veilige bewaring gehou word, die oorspronklike is, hoewel afskrifte in die dossier vervat is. Die oorspronklike dokumente is Maandag voor die aanvang van die verhoor aan die verdediging getoon.
White het nie die dokumente wat hy bestudeer het, geverifieer nie.
Hy vind dit vreemd dat van al 36 maatskappye wat in 2014 om die tender aansoek gedoen het, net Defensor aan al die vereistes voldoen het. “In ons bedrogondersoeke is dit gewoonlik ’n gevaarteken.”
Bieërs 'verkeerdelik uitgeskakel'
Amptenare van die informele pre-evaluasiekomitee (PEC) het elke maatskappy se bondel dokumente nagegaan om te bepaal of al die vereiste dokumente ingedien is. White voer aan hul werkwyse was teenstrydig en verkeerde besluite is geneem deurdat bieërs op verkeerde gronde uitgeskakel is. Intussen het die destydse LUR die toekenning van die tender gestaak weens geldelike tekorte.
In 2017 het Defensor ’n suksesvolle regsgeding teen die departement gebring om hulle te dwing om sy bod binne 60 dae te evalueer. Die bodevaluasiekomitee (BEC) en die hoër vlak bodtoekenningskomitee (BAC) het ingevolge die hofbevel die bod geëvalueer, maar dit afgekeur weens die afwesigheid van geouditeerde finansiële state. Jonkers, wat eers die administrateur en later departementshoof was, het die tender ten spyte van dié aanbevelings goedgekeur.
Geen Psira-registrasie
Volgens White het Defensor verskillende entiteite se dokumente en maatskappyregistrasienommers as deel van die tender ingedien, wat ontoelaatbaar is. Die belastingklaringsertifikaat is nie deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens uitgereik nie. Van Rooyen en Peterson was ook nie by Psira geregistreer soos vereis nie.
Die entiteit wat gebie het, het nie drie jaar se geouditeerde finansiële verslae ingedien wat finansiële welstand bevestig het nie. Jonkers het homself nie hiervan vergewis nie. Hy het na bewering sy plig versuim om op effektiewe en deursigtige wyse finansiële risiko’s te voorkom en interne beheer toe te pas.
In kruisondervraging het adv. Willem Edeling, SC, namens die beskuldigdes dit aan White gestel dat die boddokumente wat hy van die tesourie en polisie ontvang het, kopieë en nie oorspronklik was nie. Die oorspronklike is aan die departement se prokureur in Johannesburg gegee ter voorbereiding op die Defensor-regsgeding. Die betrokke prokureur het dit nie aan die departement terugbesorg nie weens ’n dispuut oor die betaling van sy rekening.
“Op dié punt moet die wenkbroue lig oor die oorspronklikheid van die dokumente wat in die polisieondersoek gebruik is,” het Edeling aangevoer.
Hy het benadruk dat Jonkers, wat ’n doktorsgraad in die regte het, op verantwoordelike wyse die hofbevel wou nakom en Defensor se bod laat evalueer. Op sy vraag aan die PEC-lede waar die oorspronklike dokumente is, het hulle gesê dit is aan die BEC oorhandig.
“Hy het die proses deeglik en verantwoordelik oorweeg, en selfs die regsmening van regsgeleerdes by die premier se kantoor bekom omdat hy die hofbevel wou nakom,” het Edeling gesê. “Hy het die diskresionêre magte om besluite te neem ná deeglike oorweging.”
Tenderbokse glo weke lank onbewaak
Intussen het die tenderbokse glo weke lank onbewaak gestaan in ’n gang in die departement waartoe die publiek toegang gehad het. Die onsuksesvolle bieërs het nie die departement se besluit beveg om hulle te diskwalifiseer nie.
Amptenare het voorheen ’n inspeksie by Defensor se kantoor in Bloemfontein gehou en was tevrede met die dokumentasie, die verskillende dienste wat Defensor kon bied en die maatskappy se finansiële gesondheid. Van Rooyen en Peterson het voorleggings gedoen, wat die amptenare tevrede gestel het dat die maatskappy sedert die stigting ’n omset van R80 miljoen gehad het. Hulle het ’n Psira-sertifikaat gehad.
Adv. Isaac Mphela kla aan. Regter Omphemetse Chwaro lei die verhoor.
