Central SA
Griekwaland-Wes rou oor dood van jong rugbyspeler─── ZENANDE MPAME 09:31 Thu, 09 Mar 2023
Begrafnisreëlings word getref ná die dood van Deandro Titus, 'n jong rugbyspeler van DFC-rugbyklub in Upington.
Die 23-jarige Titus is Saterdag 25 Februarie 2023 ernstig beseer tydens 'n rugbywedstryd tussen DFC en Groblershoop in Upington. Hy is op Sondag 5 Maart in Kimberley oorlede.
Titus het as flank vir die DFC in Upington gespeel. Hy het ook in Upington gewoon.
In die geskiedenis van die Griekwaland-Wes Rugbyunie is dit die eerste speler wat weens 'n besering sterf wat tydens 'n rugbywedstryd opgedoen is. Dit was dus 'n skok vir die bestuur en was traumaties vir sy spanmaats.
OFM-nuus het met Hercholl Johnson gepraat – 'n spanmaat en 'n vriend van Titus – wat die afgelope ses jaar saam met Titus rugby gespeel het. Hy het hom as 'n baie stil mens beskryf. “Deandro was 'n baie stil mens, 'n goeie rugbyspeler, en 'n mense-mens. Vir ’n rugbyspeler was hy baie stil.”
Johnson het verduidelik hoe die dood van sy voormalige spanmaat hom geraak het. Dit het hom ook oor sy lewe laat nadink aangesien Titus 'n persoon was wat lief was vir rugby en dit geniet het om te speel. So, van nou af gaan hy sy spel aan hom opdra.
Die bestuur het berading aan die spanlede verskaf. Die span het met sy ouma gepraat en vertel hoe mal Deandro oor rugby was. Sy het gevra dat dít wat hulle op en van die veld af doen, 'n weerspieëling moet wees van die tipe mens wat hy was."

DFC-afrigter, Ashley Louw, het genoem hoe hy Titus begin afrig het toe hy 14 jaar oud was, so hy het hom baie goed geken. Hy het hom beskryf as 'n energieke speler, vol gees, en nie baie spraaksaam nie, maar hy het alles op die veld gegee.
Louw het gesê dat dit die eerste tipe besering en sterfte in die Griekwaland-Wes Rugbyunie was en dat alle klubs in die streek oor sy dood rou. “Ons vat dit baie moeilik en dit is moeilik om die trauma en die nagevolge op die span te verwerk. Ons kon nog nie oefen sedert sy heengaan nie.”
Die Griekwaland-Wes Rugbyunie en -bestuur betuig graag hul innige meegevoel met die familie en DFC Rugbyklub. 'n Oomblik van stilte sal gehandhaaf word en die spanne sal vir die res van die deisoen swart armbande dra. Alle wedstryde word ook tot ná sy begrafnis uitgestel.
Die gedenkdiens sal na verwagting Donderdag 16 Maart 2023 om 18:00 by die VGK Reënboogkerk in Upington gehou word en die begrafnisdiens Saterdag 18 Maart om 09:00 by dieselfde kerk.
