Central SA
Welkom-inwoners steeds in waterstryd gewikkel─── 15:12 Fri, 10 Mar 2023
Inwoners van Riebeeckstad, Welkom, sukkel al bykans agt weke met min tot geen water.
Dit is weens 'n lekkasie wat reeds in 2019 in die nabygeleë Odendaalsrus ontstaan het, maar nog nie herstel is nie.
Intussen het 'n pomp ook onklaar geraak by die Balkfontein-wateraanleg op Bothaville, wat water aan die hoërliggende dele van Riebeeckstad moes voorsien.
Magda Keyser van Riebeeckstad sê die waterdruk is so laag, dis amper onmoontlik om take tuis te verrig.
"Dit is nou al agt weke wat ons in Riebeeckstad 'n waterprobleem het. Elke keer is daar 'n ander rede - dan is 'n pyp gebars, dan is die pompe stukkend, dan is daar nie chemikalieë nie, dan skuld Matjhabeng vir Bloemwater R5 miljard en Bloemwater kan net 6% dienste verskaf aan Matjhabeng.
"Dit raak nou regtig erg frustrerend. Ons vra ons wykraadslede vir hulp, ons vra vir watertenks – niks nie. Ons het twee stelsels – 'n stelsel vir die hoërliggende dele en 'n laagliggende stelsel.
"Laasgenoemde het gewoonlik water, maar daardie water kan jy basies net vir die toilet gebruik. Jy kan nie jou geyser aansit nie. Jy kan nie jou tuin natmaak nie. Jy kan nie jou wasgoed was nie want die drukking in die pype is te swak.
"En die hoërliggende areas het glad nie water nie. Hulle sal miskien in die oggend 'n bietjie water hê. Vanmiddag as die mense van die werk af kom, dan het hulle niks water nie.
"Dit is aanhoudend só. Ek het hier ingetrek in September 2021. Ek het skaars drie maande hier gebly, toe sit ek twee weke sonder water. Soos ek sê, daar word hierdie keer glad nie voorsiening getref vir ons met watertenks nie. Laas keer het hulle een tenk gestuur, een vragmotor. Ons is oor die 2000 inwoners in Riebeeckstad en hulle stuur één vragmotor," het Keyser gesê.
