On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Appèl teen uitspraak van Thandi Modise-diereklag nie aangehoor

───   17:19 Fri, 10 Mar 2023

Appèl teen uitspraak van Thandi Modise-diereklag nie aangehoor | News Article
Thandi Modise.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in die Hooggeregshof in Mahikeng geappelleer teen die vryspraak in 2021 van Thandi Modise, voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, op aanklagte van dieremishandeling op haar plaas in Noordwes.

Die saak kon egter nie aangehoor word nie aangesien landdros Ben Mtebele nie sy saak gestel het nie. Hy het ook nie redes verskaf oor of hy die wet korrek toegepas het toe hy Modise vrygespreek het nie.

Die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman, sê ná herhaalde versoeke aan die landdros om redes te verskaf, het die hooggeregshof aangedui dat die appèl nie aangehoor kan word as die landdros nie sy deel gedoen het nie.

“Ons het ’n hele oggend van argumentering gehad sonder om die meriete van die appèl teen Modise se vryspraak te hanteer omdat ’n landdros, wat ingevolge die wet verplig was om sy saak te stel, versuim het om dit te doen. Ironies genoeg is die enigste beskikbare opsie om die howe te nader om ’n landdros te dwing om sy plig te doen,” sê Bateman.

Die eenheid tree namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging op om Modise, wat tans die Minister van Verdediging is, privaat op aanklagte van dieremishandeling  te vervolg. 

LEES OOK: Modise acquitted of all animal cruelty charges

Mtebele het Modise op 30 April 2021 onskuldig bevind nadat hy ’n aansoek om ontslag ingedien het ingevolge S174 van die Strafproseswet.

Die eenheid voer aan dat die landdros in sy bevinding fouteer het deur getuienis wat nie deel van die hofrekord was nie, te oorweeg en nie relevante getuienis wat voor die hof geplaas is, in ag geneem het nie. Menings van deskundige getuies is verontagsaam, en te veel waarde is geheg aan die mening van 'n leke-getuie oor die hoeveelheid voer wat aan die diere beskikbaar was. 

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.