Central SA
Man (29) van De Aar met Mandrax, tik en vuurwapens betrap─── 09:46 Sun, 12 Mar 2023
’n Vermeende dwelmhandelaar is op De Aar in hegtenis geneem nadat hy betrap is met tik, Mandrax en twee vermoedelik ongelisensieerde vuurwapens.
Lede van misdaadintelligensie in die distrik Pixley Ka Seme, bygestaan deur die polisie se eenheid vir openbare orde, het Vrydag (10/3) ’n klopjag op die man se huis uitgevoer nadat hulle inligting oor beweer dwelmhandel ontvang het.
Tydens die optrede het hulle beslag gelê op R1 650 kontant, mandraxtablette en sakkies tik. Hulle het ook afgekom op twee weggesteekte vuurwapens, vermoedelik ongelisensieer, en ammunisie.
Die polisie sê hulle moet nog vasstel of die vuurwapens gelisensieer is of nie. Die verdagte (29) kom na verwagting binnekort voor in die landdroshof op De Aar.
Genl.maj. Nomanda Mtukushe, Pixley Ka Seme se distrikskommissaris, het die wetstoepassers se noukeurige en professionele soektog, wat gelei het tot die beslaglegging op die vermoedelik onwettige vuurwapens, geloof. Hy sê die polisie werp alles in die stryd om die toename in onwettige vuurwapens hok te slaan.
