On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

VF Plus steek stokkie voor bankrot Emfuleni se peperduur werksessie

───   10:10 Sun, 12 Mar 2023

VF Plus steek stokkie voor bankrot Emfuleni se peperduur werksessie | News Article
The Lakes, 'n luukse hotel-en-konferensiesentrum in Benoni waar Emfuleni-munisipaliteit die werksessie oor die GOP wou gehou het.

Die sukkelende Emfuleni-munisipaliteit in die Vaaldriehoek het sy beplande duur en luukse werksessie oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan na ’n goedkoper lokaal verskuif ná druk van die VF Plus.

Gerda Senekal, VF Plus-raadslid, sê die munisipaliteit, wat Evaton, Sebokeng, Vanderbijlpark en Vereeniging insluit, het ’n werksessie vir 13 en 14 Maart in The Lakes-konferensiesentrum in Benoni aan Gauteng se Oos-Rand beplan. Deelnemers sou ook daar oornag het. 

Senekal sê haar party het aan die munisipale bestuurder, April Ntuli, geskryf en geëis dat die geleentheid afgeskaf word weens Emfuleni se benarde finansiële situasie.

Die VF Plus in Emfuleni het dit ook onder die aandag gebring van Mzi Khumalo, Gautengse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, en Jacob Mamabola, LUR vir Tesourie.

Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni.

“Die VF Plus het voorgestel dat die werksessie na die Vereeniging-banketsaal verskuif word om koste te bespaar,” sê Senekal. “Dit is dan ook nie noodsaaklik vir die 110 raadslede en amptenare om van oornaggeriewe gebruik te maak nie.” Kamers in die hotel kos sowat R1 400 per nag.

Die ANC kan nie luukse werksessies beplan terwyl die Emfuleni-munisipaliteit nie sy personeel kan betaal, sy grootmaatverpligtinge aan Eskom en Randwater kan nakom en dienslewering totaal afgeskaal is nie, sê Senekal.

“Die VF Plus hou ’n wakende oog oor die ANC-beheerde Emfuleni-munisipaliteit en sal nie huiwer om sy stem dik te maak om ondeurdagte besluite te stop nie.”

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.