Central SA
Tien van Parys in hof oor grawery na koperkabels buite dorp─── 10:34 Sun, 12 Mar 2023
Nie minder nie as tien verdagtes kom Maandag (13/3) voor in Parys se landdroshof vir die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.
Die polisie op dié Vrystaatse dorp het omstreeks vieruur Donderdagoggend (9/3) ’n wenk ontvang van iemand wat besig was om koperkabels uit te grawe in ’n veld langs die R59, sowat 10 km uit die dorp in die rigting van Sasolburg.
Toe polisielede die veld bereik, het hulle afgekom op ’n man wat hard aan die grawe was in ’n voor. Hy is op die toneel in hegtenis geneem.
Die polisie sê die verdagte het nege medepligtiges aan hulle uitgewys wat in Tambo en die Mbeki-gedeelte van die Paryse township Tumahole aangekeer is. Hulle het beslag gelê op ses grawe, drie pikke en koperkabels, wat reeds uitgegrawe is en in die veld naby die voor gelê het.
Al tien verdagtes moet Maandagoggend in die plaaslike landdroshof voorkom.
