Central SA
SAOU moontlik hof toe oor Petrusville se skoolhoof─── CHARNÉ KEMP 16:22 Mon, 13 Mar 2023
Regstappe word oorweeg nadat die Noord-Kaapse departement van onderwys glo ’n skoolhoof na die Laerskool Petrusville oorgeplaas het sonder dat die pos ingevolge wetgewing geadverteer is.
Volgens Henk Brand, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Noord-Kaap, kan ’n skoolhoof nie net oorgeplaas word nie. Die pos moet geadverteer word sodat belangstellendes aansoek kan doen, waarna ’n aanstellingskomitee van die skoolbeheerliggaam onderhoude met die kandidate voer.
Hy sê kragtens die Wet op die Indiensneming van Opvoeders kan ’n skoolhoof net op aanbeveling van die skoolbeheerliggaam deur die departement aangestel word. “In die lig van die omstrede voorgestelde Bela-wetsontwerp, wat verreikende magte aan provinsiale en nasionale departemente van onderwys gee, moet ons uitpluis wat hier gebeur het en optree indien nodig.”
Die waarnemende skoolhoof het in Januarie die leisels van die vorige hoof oorgeneem en hoop ook om aansoek om die pos te doen.
‘Die SAOU sal regstappe oorweeg as enige wet oortree is’
“Net posvlak 1-onderwysers kan ingevolge die Wet oorgeplaas word na ’n ander posvlak 1-pos, weliswaar op aanbeveling van die betrokke skoolbeheerliggaam,” sê Brand. “Opvoeders in ’n bevorderingspos kan slegs aangestel word ná ’n behoorlike proses
“Dit behels advertensies, aansoeke wat gedoen word en die keuring daarvan, onderhoude en aanbevelings. Ons was uiters verras om verlede week te hoor die oorplasing is gedoen en dat die skoolhoof reeds op 1 Maart sou inval, wat om onbekende redes nie gebeur het nie.”
Brand het dadelik ’n navraag aan die departementshoof gerig, wat beloof het om op 15 Maart formele terugvoer te gee. “Ons wil weet waarop die aanstelling gegrond en hoe die besluit geneem is om die skoolhoof net oor te plaas.”
Hy sê as die betrokke skoolhoof die beste kandidaat is, mag hy aangestel word, maar die wetlik vereiste prosesse en prosedures moet gevolg word.”
Hy sê die SAOU sal regstappe oorweeg as enige wet oortree is.
Geoffrey van der Merwe, departementele woordvoerder, sê die wet maak voorsiening vir die oorplasing van opvoeders van een skool na ’n ander of wanneer ’n amptenaar afgestaan word om die administrasie waar te neem. “Mense wat ontevrede is, word aangemoedig om wetlike prosesse in hul besware te volg. Die departement oorweeg formele navrae en ’n appèl teen die betrokke aanstelling.”
