On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

‘Niks goeds het van die struggle-jare gekom nie’

───   CHARNÉ KEMP 15:15 Thu, 16 Mar 2023

‘Niks goeds het van die struggle-jare gekom nie’ | News Article
Adelaide (Tutu) Madlongolwana, dogter van wyle Evelina de Bruin en Gideon Madlongolwana, erken sy het haar ouers se afbeelding op die monument swart geverf. FOTO: Verskaf

’n Struggle-held van die Upington 26, wat tydens apartheid ter dood veroordeel maar begenadig is, en ’n dogter van twee van hulle, wonder of hulle aangekla en beboet gaan word omdat hulle van die gesigte op die Upington 26-monument swart geverf het.

Dit was uit protes teen die swaar ekonomiese omstandighede waarin hulle en hul nasate leef en hedendaagse “politieke inmenging wat hul lewe ontwrig”.

Van hul eie en hul ouers se opoffering in die struggle-jare het niks goeds gekom nie, meen hulle.

Boonop hang die swaard van ’n moontlike hofverskyning en strawwe boetes oor hul kop omdat die gedenkteken beskadig is. Die ondersoekbeampte het glo gesê die skade beloop R50 000.

Zonga Mokgatle het in 2021 sy eie gesig op die monument, wat met mosaïek uitgevoer is, swart geverf. Verlede jaar tydens pres. Cyril Ramaphosa se besoek aan die dorp, het Adelaide (Tutu) Madlongolwana, dogter van wyle Evelina de Bruin en Gideon Madlongolwana, dieselfde met die afbeeldings van haar ouers gedoen.

Madlongolwana sê amptenare wat van haar planne geweet het, het haar vergeefs probeer keer. “Wat mag die president nie sien nie?” wou sy weet.

Sy is nie afgeskrik nie en het Zonga vir sy verf en kwas gevra. “Nie rooi of blou nie, maar swart. Zonga het daardie blou Maandag saamgegaan en wag gehou terwyl ek die gesigte op die monument toegemaak het.

“Watse skade van R50 000 praat hulle van? Hoe tel hulle dan? Ek het nie aan die monument gekap nie; dit gevandaliseer nie. Ek het net die gesigte geverf.”

Toe sy klaar was, het hulle ’n rukkie daar bly sit. “Daar was stilte en vrede in my.”

Sy wil nie baklei nie. Maar sy is moeg vir politiekery en die nagevolge op gewone mense se lewe. “Ek behoort aan geen politieke party nie, maar ons lewe word deur politiekery benadeel.

‘Wat is verkeerd daaraan om die gesigte swart te verf?’

“Al wat jy deesdae op sosiale mediagroepe hoor, is of jy ’n lid van die party is of nie, en hoekom nie. Hoekom moet politiek my lewe, ons lewe oorvat? Maar ek hoor ook hulle wil my ouer broers deur my bykom …”

Sy het 18 jaar by die Dawid Kruiper-munisipaliteit in dieselfde posvlak gewerk en is nooit bevorder nie. “Ek was die beste kassiere wat daar was, deeglik opgelei deur my voorganger.

“Ek het my eie redes hoekom ek bedank het. Daarna het die munisipaliteit vir my twee kontrakte gegee, maar dit is skielik sonder rede stopgesit. Dit gaan alles oor politiekery.”

Dit is toe dat sy die kwas en die emmer verf opgetel het.

“Ek sal seker nooit met [die Noord-Kaapse premier en ANC-voorsitter] dr. Zamani Saul in my voorkamer praat nie. Nie hy of enigeen het ooit vir my of Zonga kom vra hoekom ons die gesigte toegeverf het nie.

“Al wat ons hoor, is dat ons verkeerd gedoen het, maar hulle stel nie in ons redes belang nie. Wat is verkeerd daaraan om die gesigte swart te verf?

“Daardie monument is op rioolpype gebou wat gereeld oorloop. Dit is nie ’n mooi plek nie. Hoekom het niemand ons gevra waar ons die monument wou hê nie?”

Mokgatle sê sy lewe is nie veel beter as wat dit voorheen was nie. “Vir jare moes ek as munisipale werker die park waar die monument is, skoonhou en gemors optel, die rioolvuil skoonmaak. Dit is hoekom ek my gesig afgehaal het.

“Ek was in die dodesel, ek is amper gehang, toe moet ek parke skoonmaak. My pensioen sal my en my gesin skaars aan die lewe hou. Is dit nou wat vryheid is?”

Hy is sieklik, en loop moeilik. “Die polisie het my in 1985 in aanhouding gemartel. My knieknoppe is gebreek. Ek was ’n goeie sokkerspeler, en hulle het my talent van my af weggevat.

“Nou het ons skaars brood of kos. Die ANC sideline ons, weier om met ons te kom praat. Hulle moet oppas, die vote kom.

“Dit is amper weer verkiesing. Hulle gaan seker weer door-to-door. Ons kry diep swaar, ons hart is seer. En nou sit hulle die polisie op ons …”

Die provinsiale Departement van Sport, Kuns en Kultuur ontken dat hulle ’n klag by die polisie ingedien het. In ’n vroeëre verklaring het hulle gesê die voorval is “ ’n obstruksie van die geskiedenis. Niemand kan homself verwyder van die geskiedenis nie.

“Die rooi ligte flits oor hul werklike motiewe. Voormalige politieke gevangenes is helde, ’n belangrike deel van ons struggle-geskiedenis en lewende legendes.

“Ons waardeer hul bydrae in die samelewing en koester steeds hul onbaatsugtige dade as ’n belangrike grondslag vir moderne demokrasie. Hulle verdien om gehoor te word.

“Die voorval verg ernstige dialoog oor die kritieke rol van voormalige politieke gevangenes in die demokratiese bedeling. Die departement staan vir maatskaplike kohesie en nasiebou en beskou die saak as ernstig.”

Wyle Evelina de Bruin   FOTO: Verskaf

Die departement sou toe ’n hooggeplaaste afvaardiging onder leiding van LUR Desery Fienies na Upington stuur om met die oorblywende lede van die groep te praat.

Morapedi Sekoane, departementele woordvoerder, het nie op navrae gereageer of die LUR wel die oorblywende lede en familielede besoek en wat die uitkoms was nie.

Die Dawid Kruiper-munisipaliteit ontken dat hulle ’n klag by die polisie ingedien het.

Deshi Ngxanga, ANC- provinsiale sekretaris, het nie op navrae om kommentaar reageer nie.

Die polisie het bevestig dat hulle ’n saak van opsetlike saakbeskadiging ondersoek nadat die gedenkteken op 26 Oktober 2022 beskadig is, maar vyf maande later is niemand nog in hegtenis geneem nie.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.